Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Piet:‘Op my beste, maar ek is klaar’

Die Springbok Piet van Zyl is klaar met plaaslike rugby.

Piet van Zyl

Die 28-jarige Blou Bul-skrumskakel, wat nog einde verlede jaar ’n plaasvervanger in die Bok-toets teen Wallis in Cardiff was, het nie sy kontrak met die Bulle verleng nie.

“Ek het besluit om my rugbyloopbaan in Suid-Afrika te beëindig,” het Van Zyl gesê.

“Ek is op ’n plek in my loopbaan waar ek moet besluit of ek rugby as my droom in Suid-Afrika of oorsee gaan uitleef. En of ek gaan begin aandag gee aan my toekoms ná rugby. Ek het besluit om vir eers op ons familieplaas buite Vrede te boer.”

Dit was vir hom ’n moeilike besluit aangesien hy vanjaar goeie rugby gespeel het.

“Ek voel ek het die beste rugby van my lewe gespeel. Beter as toe ek ’n Bok by die Cheetahs geword het. Selfs beter as voor einde verlede jaar se Bok-toer.

“Ongelukkig is rugby ’n sportsoort waar jy nie ten volle jou eie sukses bepaal nie.

“Dis iets wat my regtig begin vang het.”

Dié boorling van Pretoria is egter dankbaar vir die lesse wat hy die afgelope vier jaar by die Bulle geleer het, veral oor menswees.

“Dít het my visie en uitkyk oor die lewe baie verander . . . en waar beter om dit toe te pas as op ’n plaas.”

Ek was deel van iets spesiaals. Iets veel groter as waaroor so baie jong laaities droom.

As ’n oudleerling van die Laerskool Vrede en Grey Kollege is Van Zyl gewoond daaraan om te veg vir wat hy in die lewe wil hê.

“Ek groet rugby met ’n seer hart, maar ook ’n baie opgewonde hart. As ’n ou dink dat iemand sy loopbaan op 28-jarige ouderdom beëindig ná ’n goeie seisoen, maak dit seker nie sin nie.

“Maar dis op hierdie ouderdom waar meeste rugbyspelers besluit om oorsee te gaan speel en vir hul toekoms te begin sorg.

“Daarom is my besluit slegs gegrond op die toekoms. Dit gaan nie oor ’n verbitterde en harde hart nie.

“Ek is die Cheetahs, Bulle en Bokke baie dank verskuldig dat ek vir hulle kon speel. Ek was deel van iets spesiaals. Iets veel groter as waaroor so baie jong laaities droom.”

Van Zyl, wat sy Bok-buiging op 15 Junie 2013 as ’n 23-jarige in Mbombela teen Skotland gemaak het, het die hoop uitgespreek dat rugby van krag tot krag in Suid-Afrika sal gaan.

“Ek hoop regtig nie dit verval in iets waarmee ’n mens niks te doen wil hê nie.

“Dis geen geheim dat Suid-Afrikaanse rugby in die moeilikheid is nie.

“Baie veranderinge word benodig om toe sien dat dit eendag vir ’n seun, wat nou op die skoolbanke sit, steeds iets baie spe­siaals is.”

Van Zyl het die Bokke in drie toetse verteenwoordig.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Piet Van Zyl  |  Springbok  |  Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.