Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Plaaslike talent in ‘Bok-proewe’ opgeweeg

Uiteindelik! Die plaaslike rugbyseisoen sal op 26 September hervat word.

Die vier Superrugby-franchises gaan mekaar dan op Loftus Versfeld pak, waarna ’n nie-amptelike Springbok-proefwedstryd die volgende Saterdag op Nuweland gespeel sal word.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Woensdag sy planne vir die volgende paar maande aangekondig nadat die Covid-19-pandemie die spel vanjaar wêreldwyd ontwrig het.

Dít behels onder meer dat Nuweland op 3 Oktober ’n wedstryd sal aanbied waar twee spanne – “Groen” en “Goud” – teen mekaar speel.

Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, sal op 3 Oktober plaaslike talent onder oë kry wanneer twee “nasionale spanne” op Nuweland speel. Foto: Getty Images

Twee Bok-hulpafrigters, Mzwandile Stick en Deon Davids, sal die onderskeie spanne afrig en hul spanne uit ’n groep van 60 spelers kies.

Hulle sal op ’n regstreekse SuperSport-uitsending om die beurt spelers kan kies om hul groepe van 25 spelers elk saam te stel.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, en Rassie Erasmus, direkteur van rugby, sal as die onderskeie spanne se “kommissarisse” dien, het Saru aangekondig.

Geen van die oorsese Bokke sal vir die wedstryd oorweeg word nie.

Erasmus sê dit is ’n unieke geleentheid om die voorste spelers in die land teen mekaar op te weeg.

“Dit sal die spelers nog ’n waardevolle kans gee om die roes af te skud en die bene en longe aan die gang te kry, nadat daar geen rugby die afgelope ses maande was nie.”

Die Saterdag voor die groot Nuweland-stryd sal die Bulle en die Haaie en die Leeus en die Stormers mekaar in Pretoria op Superfan-Saterdag die stryd aansê.

Saru sê geen toeskouers sal weens Covid-19-regulasies toegelaat word nie.

’n Plaaslike kompetisie, na verwagting die Curriebeker-reeks, sal op 10 Oktober begin en oor ’n dubbelronde beslis word.

Dit bring mee dat wedstryde ook rondom Kersfees (26 Desember) en Nuwejaar (2 Januarie) gespeel sal word, terwyl die eindstryd vir 23 Januarie op die kalender ingevul is.

Sewe spanne (Blou Bulle, Goue Leeus, Pumas, Griekwas, Cheetahs, Haaie en die Westelike Provinsie) sal in die kompetisie speel. Bepalings sal binnekort bekendgemaak word.

Wat die Springbokke se deelname aan vanjaar se Rugbykampioenskap betref, sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, dit hang steeds van internasionale reis- en regeringsbeperkings, sowel as van spelerwelstand en hoëprestasie-oorwegings, af.

“Ons is steeds nie in ’n posisie om enige planne vir die Springbokke te bevestig nie, maar ons sal verkies om vanjaar toetse te speel.

“Dit sal nie net goed wees om weer die wêreldkampioenspan in aksie te sien nie, maar ook die Bok-bestuurspan waardevolle voorbereiding gee vir volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus.

• Die Bokke se beplande kragmeting op 4 Julie teen Skotland was veronderstel om die geskiedkundige Nuweland-stadion se afskeidstoets te wees, maar dit het midde-in die Covid-19-krisis in die slag gebly. Die Bok-proewe sal darem tot ’n mate hiervoor vergoed.

Die Stormers en die Westelike Provinsie sal volgende seisoen na die Kaapstad-stadion in Groenpunt skuif.

Meer oor:  Koronavirus  |  Haaie  |  Bokke  |  Stormers  |  Leeus  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Bulle  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.