Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Plek in Bok-beginspan wink vir Frans

Frans Steyn kan homself volgende Vrydag moontlik vir die eerste keer sedert September 2012 in ’n Springbok-beginspan bevind.

Rassie Erasmus, die Bok-breier, het Donderdag op sy laaste nuuskonferensie voordat die span na die Wêreldbeker-toernooi in Japan vertrek, gesê hy oorweeg dit om Steyn 80 minute se speelkans te gee voor die toernooi begin.

Frans Steyn sool die bal vandeesweek by ’n Bok-oefening. Foto: Gallo Images

Die enigste geleentheid wat daarvoor oorbly voor die Bokke hul WB-veldtog in Jokohama teen Nieu-Seeland afskop, is volgende Vrydag in Koemaghaja teen Japan.

“Daar is ’n paar dinge wat ons nog wil doen voor die eerste wedstryd teen die All Blacks. Die eerste is om vir Siya (Kolisi, kaptein) 100%-wedstrydgereed te kry, om hom deur 80 minute te kan kry,” sê Erasmus.

“Daar is ander ouens soos Frans Steyn, wat ons ook stelselmatig teruggebring het, wat ons ook dalk deur 80 minute sal wil kry as ons moet.”

Terwyl Kolisi onlangs sy terugkeer ná ’n kniebesering gemaak het, het die 32-jarige Steyn stelselmatig sy fiksheid herwin sedert hy op 20 Julie vir die eerste keer sedert 2017 vir die Bokke gespeel het.

“Ons wil ook nog aan wedstrydspesifieke dinge skaaf, soos ons skrums, ons lynstane en ons afbreekpunte, wat baie goed was,” sê Erasmus.

Hy sê in daardie opsig kan die wedstryd teen Japan die span baie baat, maar daar is ook ’n moontlikheid van beserings.

“Ek dink ons is van die laaste spanne wat in ’n opwarmwedstryd speel voordat die toernooi begin. As ons dan beserings opdoen, is dit baie naby aan die eerste wedstryd.”

Die toets teen die All Blacks word op 21 September beslis. Voor dan moet Suid-Afrika eers die bordjies teen die Kersiebloeisels verhang ná die 2015 Brighton-skok.

Ek weet baie mense sal dink dit is ’n maklike hekkie om te oorkom, maar ek dink hulle stel amper vir ons ’n lokval aan daardie kant.
Rassie Erasmus

“Ons het ’n moeilike opwarmwedstryd teen Japan wat voorlê. Ek weet baie mense sal dink dit is ’n maklike hekkie om te oorkom, maar ek dink hulle stel amper vir ons ’n lokval aan daardie kant.

“Dit is ’n wegtoets vir ons teen ’n begeesterde Japanse span, wat voor ’n volgepakte tuisskare sal speel. Hulle het ons boonop laas geklop, so dit gaan moeilik wees.”

Erasmus sê die span wat teen Japan gaan speel en die span wat teen die All Blacks gaan speel, gaan baie naby aan dieselfde wees.

“Behalwe as iemand nou regtig swak teen Japan speel. Die plan is om die sterkste span wat op dreef is teen Japan los te laat, sodat ons ritme kan kry. Niemand kan egter oorgerus wees vir daardie stryd nie.”

Erasmus sê hy het ’n goeie idee van hoe daardie span gaan lyk.

Hy het opnuut beklemtoon die toestande in Japan blyk baie bedompig te wees, wat balhantering kan bemoeilik. Japan is boonop ’n span wat daarvan hou om ’n ongestruktureerde spelpatroon op te dis – iets wat die Bokke nie pas nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - AUGUST 29: Siya Kolis
Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

Kolisi sê hulle het in die vorige WB-toernooi op die harde manier geleer dat ’n WB veral op een wyse anders as enige ander toernooi is.

“Elke span daag slaggereed by ’n WB op,” sê Kolisi.

“Ons het dit teen Japan geleer. Ons sal nou moet seker maak ons daag ook op.”

Ek was op ’n tyd bekommerd en onder baie druk om betyds gereed te wees, maar die goeie ding was dat ek gereeld by die span was.
Siya Kolisi

Kolisi sê uit ’n persoonlike oogpunt voel hy goed oor sy eie spel en fiksheid.

“Ek was op ’n tyd bekommerd en onder baie druk om betyds gereed te wees, maar die goeie ding was dat ek gereeld by die span was.

“Die knie het goed gehou teen die Poemas. Ek was nie op my beste nie en ek benodig nog ’n bietjie meer tyd, maar ons het nog dié week en volgende week (voor die Japan-wedstryd).

“Maar ek is vol vertroue dat ek slaggereed sal wees.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.