Die Argentynse Rugbyunie (UAR) het Dinsdag bevestig Pablo Matera is van die Poema-kapteinskap gestroop en saam met sy spanmaats Guido Petti en Santiago Socino geskors weens hulle rassistiese uitlatings jare gelede op sosiale media.

Pablo Matera, kaptein van die Poemas. Foto: Getty Images
Die skandaal het die Argentynse toergroep in chaos gedompel slegs dae voor die Poemas se laaste Drienasiestoets Saterdag teen Australië in Sydney.
Die UAR sê sy raad het ’n dringende vergadering belê ná aantygings gemaak is dat bogenoemde spelers tussen 2011 en 2013 rassistiese uitlatings op sosiale media gemaak het.
“Die Argentynse Rugbyunie verwerp die diskriminerende en xenofobiese uitlatings deur lede van die Poemas-groep op sosiale media,” sê die UAR in ’n verklaring.
“Hoewel dié boodskappe tussen 2011 en 2013 gedeel is, veroordeel die Argentynse Rugbyunie enige uitsprake van haat en ons beskou dit as onaanvaarbaar dat diegene wat dit uitspreek, ons land verteenwoordig.”
Die UAR sê hy het sy personeel gevra om voorstelle aan die raad te maak vir ’n nuwe kaptein en dat die spelers hangende ’n “dissiplinêre proses” geskors is.
’n Woordvoerder vir die span sê die Poemas het Dinsdag al sy media-verpligtinge gekanselleer en Reuters na die UAR se verklaring verwys.
Argentinië is die afgelope naweek met 38-0 deur die All Blacks geklop.
– Reuters