
Pablo Matera / Getty Images
Die Argentynse Rugbyunie (UAR) het sy skorsing opgehef teen drie spelers wat jare gelede rassistiese en xenofobiese uitlatings op sosiale media gemaak het.
Hulle is dus beskikbaar vir Saterdag se Drienasiestoets teen Australië, maar is egter nie by die Poemas se 23-tal ingesluit nie.
Lees meer oor Saterdag se spanne hier.
Pablo Matera is Dinsdag van die Poema-kapteinskap gestroop en saam met sy spanmaats Guido Petti en Santiago Socino geskors weens neerhalende uitlatings tussen 2011 en 2013 teenoor swart mense en diegene van Suid-Amerikaanse lande.
Die skandaal het die Argentynse toergroep in chaos gedompel voor die land se laaste toets van 2020 teen die Wallabies in Sydney.
Die UAR het Dinsdag gesê hy “verwerp die diskriminerende en xenofobiese uitlatings” en dat hy dit as “onaanvaarbaar beskou dat diegene wat dit uitspreek, ons land verteenwoordig”.
Dié beheerliggaam het Donderdag egter ’n ander deuntjie gesing.
Volgens Stuff berig La Nación, ’n Argentynse publikasie, dat sekere gesaghebbende spelers in die Poema-groep gedreig het om te staak indien die UAR nie sy besluit om die spelers te skors, verander nie.
La Nación beweer die UAR het erken die drie spelers geniet die ondersteuning van hul spanmaats, voormalige Poemas en klubs in Argentinië.
Dit het Woensdag aan die lig gekom die Poemas glo die destydse twiets is deur ontevrede Argentynse aanhangers opgediep in ’n poging om die span te saboteer weens sy oënskynlike gebrek aan respek vir die ontslape Diego Maradona.
– Reuters, Sportredaksie