Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Poemas duik Aussies kisboude

Argentinië se terugvegpoging in sy Drienasies-rugbywedstryd teen die Wallabies het ’n gelykopuitslag van 15-15 afgedwing en verseker dat hulle die enigste onoorwonne span in die kompetisie bly.

Jordan Petaia
Die Wallaby-senter Jordan Petaia stel sy akrobatiese vermoëns ten toon toe hy so byna ’n skitter-drie vir die Wallabies gedruk het. Sy regterstewel was net-net op die doodlyn toe hy die bal met ’n bollemakiesie agter die doellyn geplant het. Foto: Getty

Vir ’n tweede naweek in ’n ry het die Poemas met dodelike verdediging hulself goed van hul taak gekwyt ten spyte daarvan dat hulle reeds voor die stryd afgeskryf is.

Daar is veral gesê dit sal onmoontlik wees vir die span om te herhaal wat hulle verlede week teen die All Blacks gedoen het toe hulle ’n geskiedkundige eerste sege oor die Kiwi’s behaal het.

Die Argentyne het nou wel nie op die aanval soveel vernuf gewys nie, maar die durf op die verdediging het weer eens die deurslag gegee.

Australië is hard geduik en dit was weer die Poemas-kaptein, Pablo Matera, en sy flankmaat, Marcos Kremer, wat hul lywe op die spel geplaas het.

Kremer het kort voor die eindfluitjie ’n reuse-duikslag uitgevoer waarin hy katswink geslaan is en weer opgestaan en sekondes later nog ’n harde duikslag gemaak het om die Wallabies te keer.

Hy is uiteindelike enkele minute voor die einde afgehaal om ’n harsingskuddingtoets te ondergaan.

Sy deursettingsvermoë, al is dit teen Wêreldrugby se veiligheidsprotokol, het die poging op die verdediging van sy span opgesom.

Die Wallabies het ook ’n paar keer kanse op drieë verspeel deur of besit weg te skop op soek na gate agter verdedigers of ’n speler wat nie die bal uitgegee het om ’n spanmaat eerder in ruimte te sit nie.

Die buitesenter, Jordan Petaia, was die groot sondaar hier en het ’n paar keer aan die bal vasgeklou wanneer hy dit moes uitgegee het.

Argentinië kan ook verkul voel met hoe die skeidsregter teen hulle opgetree het elke keer as Michael Hooper, Australië se kaptein, in sy oor gaan teem het.

Byna al die 50-50-besluite het in die tuisspan se guns gegaan, met Hooper wat pal met hom gepraat het.

Nes verlede week het Nicolás Sánchez, Argentynse losskakel, al sy span se punte aangeteken, dié keer met vyf strafdoele.

Reece Hodge, losskakel van die Wallabies, het ook vyf strafdoele aangeteken en met sy sesde poging, kort voor die eindfluitjie, misluk. Dié strafdoel kon die sege vir die Wallabies beklink het.

Dave Rennie, afrigter van die Wallabies, het agterna gesê sy span moes meer gedoen het om te kon wen.

“Dis frustrerend en regtig teleurstellend,” het Rennie volgens rugby.com.au gesê.

“Ons het kanse gehad om hulle in hul hoeke vas te pen. Ons het dalk ons hand oorspeel en hulle so terug in die stryd gebring. Die span moes die stryd verseker het. Ons het egter net onsself om te blameer.”

Mario Ledesma, Poemas-afrigter, en sy spelers was self effe teleurgesteld in hul spel.

“Ons was nie klinies genoeg nie en het nie die peil (van verlede week) gehad nie, so die ouens is teleurgesteld met hul spel,” het hy volgens Reuters gesê.

“Hulle besef nie hoe moeilik dit is om teen die All Blacks te speel, met al daardie emosie, en dan teen ’n vars Australië wat ’n week af gehad het en 70% van die besit in die stryd gehad het nie.”

Puntemakers:

Australië 15 (9): Strafdoele: Reece Hodge (5).

Argentinië 15 (6): Strafdoele: Nicolás Sánchez (5).

Meer oor:  Argentinië  |  Drienasies  |  Rugbykampioenskap  |  Wallabies  |  Poemas  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.