By Michael Hooper, kaptein van die Wallabies, is daar min twyfel dat ’n opgesweepte Argentinië, wat daarop uit sal wees om trots te herwin, op hom en sy spanmaats wag nadat ’n rassismeskandaal dié span die afgelope week ’n knou toegedien het.

Die Wallabies se Michael Hooper ’n paar jaar gelede teen Argentinië op die aanval in ’n Rugbykampioenskapstoets. Foto: Getty Images
Australië en die Poemas is Saterdag in die laaste kragmeting van vanjaar se Drienasies-rugbyreeks in Sydney slaags. Die Aussies se kanse om die titel te wen, is soos om ’n naald in ’n hooimied te vind – basies nul – aangesien hulle die Argentyne met 101 punte moet klop. Die Poemas se kans om die titel voor die neuse van die All Blacks weg te raap, is ewe skraal, aangesien hulle met 93 punte moet wen.
Maar die aanloop tot dié wedstryd is vandeesweek oorheers deur ’n skandaal waarby die Poemas se kaptein, Pablo Matera, en twee spanmaats, Guido Petti en Santiago Socino, betrek is.
Dié spelers het meer as sewe jaar gelede rassistiese en xenofobiese opmerkings op sosiale media gemaak, wat vandeesweek eers rugbaar geword het. Dit het ’n storm om hul koppe ontketen.
Hulle is dadelik geskors en Matera van die kapteinskap gestroop, maar ’n dag later het die Argentyne ’n U-draai gemaak en die skorsings opgehef.
Mario Ledesma, afrigter van die Argentyne, het hulle egter nie vir die kragmeting oorweeg nie, straks om hulle van verdere kritiek te beskerm.
Hooper glo die moeilike week kan die Poemas net meer motiveer om op ’n hoogtepunt te eindig – wat beteken dat die Wallabies dit gaan ontgeld.
Hulle is ’n passievolle klomp ouens en ek is seker hulle gaan gereed wees.
Michael Hooper
“Hulle het duidelik baie goed in die week geoefen en is duidelik reg vir die uitdaging ná ’n moeilike week. Hulle is ’n passievolle klomp ouens en ek is seker hulle gaan gereed wees,” sê Hooper, ’n losvoorspeler.
Warm weer (28 °C) met die moontlikheid van ’n donderstorm word vir Saterdag voorspel, wat ’n uitdaging aan albei spanne kan stel. Dan is dit boonop ook die vierde agtereenvolgende naweek wat die Argentyne speel.
“Hulle het drie taai toetse ná mekaar gespeel en daar was ook oefenwedstryde vooraf. Ek verwag dat die weer ’n besliste invloed sal hê. Die span wat die beste daarby aanpas, sal môre (Saterdag) goed vertoon,” sê Hooper.
Toe die twee spanne twee weke gelede in Newcastle slaags was, het die Wallabies in ’n stadium ’n voorsprong van nege punte gehad, maar die wedstryd het uiteindelik met 15 elk gelykop geëindig.
Hooper het ’n beroep op sy spelers gedoen om gedissiplineerd te wees en nie die Argentynse losskakel, Nicolas Sanchez, die geleentheid te gee om dit met sy skopvoet uit te buit nie.
“Ons mikpunt is om met ’n afgeronde vertoning vorendag te kom. Ná more (Saterdag) sal ons weet hoe ons hierdie seisoen gevaar het.” – Reuters
• TV: 10:35 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).