Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Junior se tyd op kantlyn byna verby

Die Cheetahs se losvoorspeler Junior Pokomela kan soos sake nou staan aanstaande maand – in sy span se derde Curriebeker-rugbywedstryd – sy langverwagte terugkeer ná ’n polsgewrig-operasie maak.

Pokomela (24) was op 14 November verlede jaar laas in ’n wedstryd in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Stormers op Nuweland in aksie.

Die Cheetahs se losvoorspeler Junior Pokomela, wat lank buite aksie was, brand om weer te speel. Foto: Gallo Images

Hy het in daardie stadium die span aangevoer. Sy gewrig het egter knaend gelol. Hy het in die laaste paar wedstryde waarin hy nog gespeel het ’n beskermende stut om sy regterpols gedra en toe vroeg in Desember die operasie laat doen.

Aanvanklik is gedink hy behoort ná drie maande weer gereed te wees, maar wanneer die losvoorspeler op 9 Julie op sy tuisveld in Bloemfontein teen die Pumas opdraf, sal dit bykans agt maande wees sedert hy laas gespeel het.

“Ek oefen reeds die laaste vier weke weer saam met die span. Die plan is om in die derde Curriebeker-wedstryd my terugkeer te maak, maar ek is 99,9% gereed,” sê die uitgehongerde kantman, wat kleintyd die spel van die All Black-legende Richie McCaw bewonder het.

Hy het nie gedink dat die besering hom vir so lank buite aksie sou hou nie. Die aard van die besering, iets wat maar min voorkom, is die rede daaragter.

“Ek kon nie glo dat ’n polsgewrig-besering my vir so lank uitgehou het nie. Die spesialis (dokter PC Pelser in George) het my die versekering gegee dat ek weer sonder enige komplikasies sal kan speel, maar dat dit ’n lang herstelproses gaan wees omdat die besering nie iets is wat gereeld voorkom nie.”

Pokomela sê die terapeut Elaine Steyn, die Cheetahs se mediese span en sy uitstekende ondersteuningstruktuur het hard gewerk om hom weer ten volle oorgehaal te kry.

Ek is dankbaar en bly om weer te kan doen waarvoor ek lief is.

In die tydjie af het hy tyd gehad om hom weer op ander dinge toe te spits, waaronder die B-graad in sake-administrasie wat hy deur Stadio volg.

“Ek het my heeltemal afgeskakel van rugby omdat ek gesukkel het om tot verhaal te kom oor my besering.

“Ek het heelwat tyd saam met my familie deurgebring en kon ook op my studies – ek is in my laaste jaar – fokus.”

Sy visier is nou daarop ingestel om weer op die speelveld te kom.

“Ek is dankbaar en bly om weer te kan doen waarvoor ek lief is. In hierdie stadium wil ek die span net help wanneer ek ook al kan, of ek nou speel of nie, om die doelwitte te bereik wat ons vir onsself vir die Curriebeker-reeks gestel het.”

• Die Cheetahs begin hul Curriebeker-veldtog Saterdag in Kimberley teen Griekwas. Die span sal Donderdag ná die spelers se Covid-19-toetsing aangekondig word.

Meer oor:  Cheetahs  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Junior Pokomela  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.