Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pollard het geweet hy kan knie ‘vertrou’

Hy is in die 58ste minuut opgestuur en het geduik en by losgemale skoongemaak asof hy nooit beseer was nie.

En toe daar in die laaste sekondes van hom gevra is om met ’n stelskop digby die kantlyn seker te maak Montpellier dring deur tot die Europese Uitdaagbeker-eindstryd, het Handré Pollard, asof daar enige twyfel was, die bal deur die mikke gejaag.

Handré Pollard (regs) en sy Suid-Afrikaanse spanmaat Johan Goosen (links) ding mee om besit teen Joe Cokanasiga, vleuel van Bath. Foto: Getty Images

Daarmee het Montpellier Saterdag sy halfeindstryd teen Bath op ’n koue en nat Recreation Ground met 19-10 gewen.

Dit was die Springbok-losskakel se eerste wedstryd sedert hy in September verlede jaar ’n kruisligament in sy linkerknie geskeur het toe hy vir Montpellier in die Franse Top14-reeks gespeel het.

“Dit was ongelooflik lekker om weer op die veld te wees en dit was maklik om die knie te vertrou.

“Ek het geweet die knie is sterk. Ons het elke moontlike toets gedoen en ek oefen al vier weke saam met die span, so daar was geen twyfel nie,” het Pollard Sondag uit Frankryk laat weet.

Ek is net bly ek kon weer ’n bydrae lewer.
Handré Pollard

Dit is, met die oog op die toer van die Britse en Ierse Leeus, uitstekende nuus vir die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber.

Pollard se terugkeer het gekom op dieselfde dag wat nog ’n Wêreldbeker-Bok, Pieter-Steph du Toit, weer vir die Stormers gespeel het ná ’n afwesigheid van byna 15 maande weens ’n ernstige beenbesering.

Benoit Paillaugue, skrumskakel van Montpellier, het op die span se mediakonferensie gesê Pollard sal “’n baie groot rol speel” in die res van die span se veldtog.

Handré Pollard (nr. 22) en sy landgenoot Bismarck du Plessis (links) vier Saterdagaand Montpellier se wegsege oor Bath in die Europese Uitdaagbeker-halfeindstryd. Foto: Getty Images

“Hy is ’n belangrike deel van ons span. Hy het baie ervaring en dit sal ons help aan die einde van die seisoen.

“Hy het met groot hart gespeel vandag en ons het die sege verdien.”

Pollard is heel beskeie oor sy koelkop-strafdoel in moeilike toestande.

“Ek is net bly ek kon weer ’n bydrae lewer. As ’n mens terugkom ná so ’n lang afwesigheid, wil jy op ’n manier waarde toevoeg en ek is bly ek kon doen.”

Montpellier sal op 21 Mei op Twickenham in die eindstryd teen die Leicester Tigers te staan kom.

Die Tigers het Ulster Vrydagaand met 33-24 uitgeskakel.

Daar sal ’n sterk Suid-Afrikaanse geur in die eindstryd wees.

Afgesien van Pollard, het twee ander Bokke, Cobus Reinach en Bismarck du Plessis, as plaasvervangers ook ’n groot impak in die tweede helfte vir Montpellier gehad, terwyl Paul Willemse, Nicolaas Janse van Rensburg en Johan Goosen in die opdrafspan was.

Hanro Liebenberg en Jasper Wiese was Vrydagaand lede van die Tigers se lostrio en Luan de Bruin en Cyle Brink het op die bank gesit.

Jaco Taute en Kobus van Wyk is ook by Leicester gekontrakteer, maar hulle was nie in die 23-tal wat teen Ulster gespeel het nie.

Meer oor:  Handré Pollard  |  Montpellier  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.