Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pollard sal fiks wees vir toets teen Poemas
Handré Pollard sal fiks wees vir die Bokke se eerste toets in die Rugbykampioenskapsreeks op 18 Augustus in Durban teen Argentinië. Foto: Gallo Images

Handré Pollard se rugbesering sal hom nie uit die Rugbykampioenskapsreeks hou nie.

Dié losskakel het die Bulle se laaste wedstryd van die Superrugby-reeks teen die Leeus weens ’n rugbesering misgeloop. Hy het egter Donderdag bevestig hy sal slaggereed wees vir die Springbokke se eerste toets in die Rugbykampioenskap teen Argentinië op 18 Augustus in Durban.

“As ek ’n bietjie rus in die volgende paar weke, sal ek weer slaggereed wees. Ek sal beslis geen wedstryde misloop nie,” het Pollard by ’n geselligheid in Johannesburg gesê.

Dit is goeie nuus vir die Bok-breier, Rassie Erasmus. Erasmus sal graag wil hê sy voorkeur-skakelpaar van Pollard en Faf de Klerk moet nog in ’n hele paar toetse saam speel voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan.

Handré Pollard vir die Bokke in die tweede toets vanjaar teen Engeland in Bloemfontein in aksie. Foto: Gallo Images

Dié twee besluitnemers het nog net in twee toetse, die eerste twee in Junie vanjaar teen Engeland, gekombineer. Pollard sê hulle het vinnig gekliek op die veld.

“Ek dink Faf het baie volwasse geraak as ’n rugbyspeler. Hy het teruggekom uit Engeland as ’n baie beter rugbyspeler, veral wat sy besluitneming betref,” sê Pollard.

“Ek het dit baie geniet om saam met hom te speel. Hy is beslis een van die vinnigste skrumskakels saam met wie ek tot nog toe gespeel het. Hy het ook ’n goeie skopvoet.

“Dit is goed vir ons as ’n span. Ek dink ons het mekaar goed verstaan in die eerste twee toetse. Ek sien uit daarna om in nog ’n paar toetse saam met hom te speel.”

Die losskakel glo ook die Bok-span gaan ander soorte uitdagings moet trotseer in die Rugbykampioenskap as dié wat Engeland hom gebied het.

“Dis ’n ander tipe rugby en ons is gewoond daaraan, want ons speel daardie soort rugby in Superrugby. ’n Mens weet half meer wat om te verwag van spanne soos die Wallabies en die All Blacks, maar dit maak dit glad nie makliker nie. Die Rugbykampioenskap is ’n ongelooflike taai reeks,” sê hy.

Rassie Erasmus, hoofbreier van die Springbokke.

Hy sê die Rugbykampioenskapsreeks sal ook ’n goeie slypskool vir dié groep wees met die oog op volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.

“Rassie wil graag hê ons moet in ’n paar toetse speel waar die druk groot is, want dít is wat jy in die Wêreldbekertoernooi moet doen. Ons gaan getoets word en daar gaan ’n paar glipsies wees, maar dit is hoe jy diepte in jou groep opbou.”

Volgens Pollard is daar beslis ’n nuwe gevoel in die Bok-omgewing sedert Erasmus die leisels as breier oorgeneem het.

“Elke span en elke afrigter het ’n ander gevoel. Ek geniet wel die atmosfeer wat ons in die Bok-groep het. Dit is ’n reguit, eerlike gees wat heers. Jy kan eerlik met jou spanmaats praat en dit is goed. Dit help ook natuurlik as jy ’n paar toetse wen.”

Meer oor:  Handre Pollard  |  Rassie Erasmus  |  Faf De Klerk  |  Pretoria  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.