Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pollard se kans om sy plek vas te messel
Handré Pollard maak litte los by ’n Springbok-oefening in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Die ink op Handré Pollard se matriekeindeksamen-vraestelle was skaars droog toe hy wyd en syd as die volgende Springbok-messias gebrandmerk is.

Nou is dit ses jaar nadat hy die skoolbanke van Paarl Gimnasium verlaat het en Pollard (24) is, grotendeels weens beserings, nog nie die breker-losskakel op die toetsverhoog wat almal verwag het hy sou wees nie.

Maar van Saterdag af het hy die kans om homself bo enige twyfel as die Springbokke se voorkeur-generaal te vestig en sy loopbaan terug op die snelweg na sterstatus te kry.

Ek is op ’n goeie plek. Ek is net bly ek is beseringsvry, dit was lanklaas so.
Handré Pollard

“Ek is op ’n goeie plek. Ek is net bly ek is beseringsvry, dit was lanklaas so,” het Pollard Donderdag in Johannesburg gesê.

Rassie Erasmus, die Bok-breier, het Pollard as sy losskakel gekies vir die eerste van drie toetse teen Engeland Saterdag op Ellispark.

“Dis ’n kans vir my om my plek in die beginspan vas te messel, maar dis nie my fokuspunt nie. Sodra jy op individuele dinge begin fokus, gaan dinge begin skeefloop,” sê Pollard.

Sbu Nkosi

Hy het sy toetsbuiging in 2014 gemaak, slegs twee jaar nadat hy gematrikuleer en hom in Pretoria gevestig het. Sedertdien was hy in 26 toetse in aksie en is dus een van die meer ervare spelers in die Bok-agterlyn.

“Daar is ’n paar nuwe gesigte in die agterlyn en ook ’n paar bekendes wat terug is. Ouens soos Sbu (Nkosi) en Ampi (Aphiwe Dyantyi) het ongelooflik baie talent en hul spelpeil is puik.

“Dis lekker om vir Faf (de Klerk) en Willie (le Roux) terug te hê, hulle het goeie rugby in Engeland gespeel. Dan weet ons ook Damian (de Allende) is ’n speler van gehalte, hy is altyd goed. Dis ’n opwindende agterlyn,” sê hy.

Hoewel Pollard nie nou op 2019 se Wêreldbeker-toernooi fokus nie, sal Erasmus hoop hy en De Klerk vul mekaar goed as ’n skakelpaar aan, sodat daar met hulle volhard kan word tot by dié skouspel in Japan.

“Ek het nog nie saam met Faf gespeel nie, maar hy maak die oond baie vinnig skoon. Hy is gevaarlik rondom die afbreekpunte en in Engeland (waar hy vir Sale Sharks speel) het sy skopspel verbeter. Hy het wasdom bereik en hy oefen met ’n afgemete ingesteldheid.”

Uit gesprekke kan ’n mens aflui die Bokke gaan in die Erasmus-era ruimte probeer uitbuit en volgens Pollard sal hy, De Klerk en Le Roux in dié opsig sleutelrolle hê.

Om spasie te vind en te skep, is die eerste stap. Daar is nie baie daarvan op toetsvlak nie, so ons sal hard moet werk om dit te skep.
Handré Pollard

“Dis die skrumskakel, losskakel en heelagter se werk om ruimte te identifiseer en aan val. Daar is verskillende maniere om dít te doen – met en sonder die bal.

“Om spasie te vind en te skep, is die eerste stap. Daar is nie baie daarvan op toetsvlak nie, so ons sal hard moet werk om dit te skep.

“As ons dan die spasie het, moet ons dit uitbuit. Dit is een ding om ruimte te skep, maar dan moet jy sorg jy kry die bal in daardie ruimte en jy kry punte daaruit.

“Daar is altyd druk op die losskakel om die span te lei en rigting te verskaf, maar ons het uitstekende leiers in die groep soos Siya (Kolisi), wat ons kaptein is, en Duane (Vermeulen), Faf en Willie. Daar is dus nie bykomende druk op my skouers nie.”

Meer oor:  Handre Pollard  |  Johannesburg  |  Springbokke  |  Toets  |  Losskakel  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.