Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pollie wis nie hy oortref held Naas se rekord

Afgesien van ’n voortreflike 100%-vertoning met sy stelskoppe, het die Springbok-losskakel Handré Pollard Saterdagaand in Parys onwetend ’n spesiale mylpaal bereik.

Hy het met sy persoonlike bydrae van 19 punte in die Bokke se sege van 29-26 oor Frankryk in die Stade de France, verby die legendariese Naas Botha se 312 punte in toetsrugby geskuif.

Handré Pollard lê aan pale toe in die Bokke se sege oor Frankryk Saterdagaand in Parys. Foto: Getty Images

Pollard, wat voor die toets een punt nodig gehad het om die 300-punte-kerf verby te steek, is nou vierde op die Springbokke se lys van voorste puntemakers.

Botha het wel sy 312 punte in 28 toetse aangeteken en Pollard het teen die Hane in sy 37ste toets gespeel.

“Ek het dit nie geweet nie, maar dit is werklik ’n voorreg. Ons almal het grootgeword en gedroom om soos Naas te wees. Hy sal altyd een van die heel grotes in ons rugby wees.

“Maar die Bokke het gewen en dit is eintlik al wat tel. Ek is net bly ek kon ’n bydrae lewer.”

Pollard sê dit was ’n oorwinning wat die besoekers bitter nodig gehad het.

“Dit is altyd belangrik om te wen, nog meer so vir ons in dié stadium.

Ons almal het grootgeword en gedroom om soos Naas te wees.
Handré Pollard

“Ons het al ’n paar keer vanjaar aan die verkeerde kant beland van toetse soos dié en om vanaand terug te veg en te wen, is presies wat die span nodig gehad het. Dit kan baie maklik ’n sielkundige ding word, maar ons het nou die ys gebreek.”

Hy sê die uitdaging wat spanne uit die Suidelike Halfrond die tyd van die jaar in Europa het, word kwaai onderskat.

Die All Blacks het deurgeskraap teen Engeland op Twickenham (16-15), terwyl Wallis die Wallabies met 9-6 in Cardiff verslaan het.

“Dit is baie moeiliker as wat mense by die huis dink. Dit is nat, koud en ’n hele ander spel. Vir ons spanne wat gewoond is daaraan om teen ’n vinnige pas te speel in die Superreeks en Rugbykampioenskap, is dit ’n aansienlike aanpassing.

“In Wêreldbeker-uitspeelstryde is dit die soort rugby wat ’n ou kan verwag en ons moet die meeste maak van die toer. Ek dink die span is stelselmatig besig om dit te bemeester, hoewel ons steeds baie het om aan te werk.”

Hy sê die Franse was in die eerste helfte ’n handvol by die afbreekpunte en die besoekers het eers diep in die tweede helfte momentum en ritme gekry.

“Ons het baie beter gespeel ná rustyd, maar daar was steeds te veel individuele foute.

“Ek dink ons het goed gedoen om kalm te bly in daardie laaste paar minute en dit is iets wat met ervaring kom. Dit is sulke situasies wat jou help om dit vorentoe makliker te hanteer.”

Die voorste puntemakers in Springbok-rugby:

Percy Montgomery – 893 (102 toetse)

Morné Steyn – 736 (66)

Bryan Habana – 335 (124)

Handré Pollard – 318 (37)

Naas Botha – 312 (28)

Meer oor:  Frankryk  |  Naas Botha  |  Bokke  |  Springbokke  |  Handre Pollard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.