Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pos in Japan wink vir Johan Ackermann

Johan Ackermann kan sy bande met Engelse klubrugby verbreek om in Japan af te rig.

Johan Ackermann, hoofafrigter van Gloucester, voor sy span se halfeindstryd teen Saracens verlede jaar. Foto: Getty Images

Rapport se inligting is dat Ackermann dit oorweeg om sy pos as hoofafrigter van Gloucester op te sê om die Japanse klubspan Docomo Red Hurricanes se hoofafrigter te word. Dié onverwagse wending kom nadat Ackermann nog verlede jaar sy kontrak by Gloucester tot Junie 2022 verleng het. Hy het in 2017 by die Engelse klubspan aangesluit.

Eerder as sprake van onmin tussen Ackermann en die klub, is die Covid-19-pandemie se impak op die geldelike welstand van klubs as ’n moontlike rede genoem vir sy belangstelling om sy loopbaan as afrigter in Japan voort te sit.

“Die salarisverminderings by die Engelse Premierliga-spanne weens die Covid-19-pandemie het groot onsekerheid veroorsaak. Niemand weet wanneer die Engelse seisoen gaan hervat en wat die toekoms inhou nie. Baie Engelse klubspanne sal onder geldelike druk wees as rugby nie gou hervat word nie,” het ’n ingeligte aan Rapport gesê.

Makazole Mapimpi

Docomo Red Hurricanes is ook die klub wat probeer om die Bok-held Makazole Mapimpi te werf. Die Haaie-vleuel het tot Donderdag om te besluit of hy bly of ry.

David Humphreys, Gloucester se direkteur van rugby, is bewus van Ackermann se onderhandelinge met die Japanse klubspan.

Nog ’n Japanse klubspan, Canon Eagles, het Ackermann voor sy onderhandelinge met Docomo Red Hurricanes genader om by Allister Coetzee oor te vat. Die voormalige Springbok-afrigter het onlangs na Suid-Afrika terugkeer nadat sy kontrak by Canon Eagles verstryk het.

Intussen is daar ook vrae oor wanneer spelers en afrigters uit Suid-Afrika sal kan vlieg om hulle by oorsese spanne aan te sluit te midde van die Covid-19-pandemie en die inperkings.

Ackermann is juis op die oomblik in Suid-Afrika.

“Ackers doen nie sy onderhandelinge met Docomo agteraf nie,” het ’n ingeligte aan Rapport gesê.

“Hy het nog nie ’n getekende kontrak nie; daarom kan hy nog nie met sekerheid sy finale besluit neem of hy na Japan gaan nie. Ackers het beslis nog met geen speler onderhandel om saam met hom na Japan te gaan nie.”

In sy eerste seisoen by Gloucester het Ackermann se span tot die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker deurgedring en vir die Kampioenebekertoernooi gekwalifiseer. Hy het verskeie van sy Leeus-spelers van destyds gewerf om vir dié klub te speel.

In sy tweede seisoen by Gloucester het sy span in die derde plek in die Engelse Premierliga klaargemaak nadat hulle ’n jaar vantevore sewende was.

Tot voordat die Covid-19-pandemie rugby tot stilstand gedwing het, het Gloucester vanjaar die negende plek op die puntelys van die Engelse Premierliga beklee. Hulle het vier van hul 13 wedstryde gewen en was in hul laaste vyf op ’n streep aan die verloorkant.

Die Haaie wag intussen in spanning op wat Mapimpi voor Donderdag, wanneer die 21 dae verstryk waarin spelers hul plaaslike kontrakte vir ’n beter oorsese een kan opskeur, oor ’n moontlike skuif na Japan sal besluit.

“Daar is belangstelling, maar hy is gelukkig by die Haaie,” het sy agent, Dane Galley, die week aan Rapport gesê.

Die Haaie is ook bewus daarvan dat die 26-jarige senter Lukhanyo Am skriftelike aanbiedinge van Europese klubs gekry het. Die moontlikheid bestaan dat hy sal bly as Mapimpi bly, en sal skuif as die 29-jarige Bok-vleuel wel Japan bo die Haaie kies.

Dit blyk dat hul spanmaat Curwin Bosch reeds besluit het om in Durban te bly.

Elton Jantjies

Brenden Nel berig die Leeus se Elton Jantjies is nog ’n plaaslike speler wat belangstelling van Europese en Japanse klubspanne kry. Hy kan moontlik selfs saam met Ackermann in Japan eindig.

Jantjies is volgens alle aanduidings die enigste Leeu wat die 21-dae-opsie dié week kan uitoefen.

“Hy kyk oorsee op die oomblik, maar dit is nog te vroeg om te sê,” het ’n bron naby aan Jantjies aan Rapport gesê.

Simnikiwe Xabanisa berig spelers en agente hou hul kaarte styf teen die bors oor of hulle die vergunning van 21 dae gaan gebruik om kontrakte met SA spanne op te sê.

“Dit is interessant, want daar is ’n groot uitdaging waarvan almal vergeet het: Hoe kom jy uit Suid-Afrika om na Frankryk of Engeland te gaan,” het ’n bron gesê.

“As hierdie klubs jou dus teken, sal hulle jou moet betaal terwyl jy hier sit en wag totdat die lughawens oop is. Die ding is, op die oggend van die 14de (Donderdag) as die spelers hul kontrakte opsê, sal hulle dadelik afgesny word en dan nie ’n sent betaal word nie. Dit kan wees dat die spelers nog twee maande nie sal kan vlieg nie.”

Meer oor:  Japan  |  Rugby  |  Gloucester  |  Johan Ackermann  |  Docomo Red Hurricanes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.