Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van...
Poskaart, trein en ’n bier voor tandarts opdraf
Albert Heenop gesels met Nic Labuschagne

Jackson Lambie is maar net tien maande oud, maar met ’n Springbok as sy pa en ’n oupagrootjie wat vir Engeland en die destydse Natal gespeel het, is sy bloedlyn suiwer dié van ’n toekomstig toetsspeler.

Jackson is die babaseun van die ster-losskakel Pat Lambie wat vir die Haaie en Bokke gespeel het. Sy oupagrootjie is die 88-jarige dr. Nic Labuschagne, ’n speler wat met sy tokse diep spore in Natalse rugby getrap het en ook in vyf toetse vir Engeland gespeel het.

Labuschagne was ook lid van die Natalse span wat in 1960 met 6-6 gelykop gespeel het teen die sterk All Black-toerspan van Wilson Whineray.

Labuschagne in die Harlequins-trui. Foto: Getty

Daarna het Labuschagne homself onderskei as rugbyadministrateur, en was hy president van die NRU toe Natal in 1990 die eerste keer daarin kon slaag om die Curriebeker te wen.

Labuschagne kuier tans op Hermanus saam met sy lewensmaat, Shirley Koster.

Hy woon steeds in Durban, in ’n Tudor-styl herehuis in Morningside, met ’n panoramiese uitsig oor Durban, die Indiese Oseaan en Kingspark, “waar ek reeds die afgelope 60 jaar bly”.

Labuschagne se wederhelf, Alizanne (néé Orr), met wie hy bykans 60 jaar getroud was, is 10 jaar gelede op 79-jarige ouderdom oorlede.

“Dit was Alizanne se hartsbegeerte om haar kleinseun op Twickenham te sien opdraf vir die Springbokke,” vertel hy van dié dag, 27 November 2010, toe Pat Lambie as ’n plaasvervanger opgekom het in Suid-Afrika se oorwinning van 21-11 oor Engeland.

“Sy is ongelukkig kort ná die wedstryd dood ná ’n hewige beroerte. Alizanne en Pat was baie na aan mekaar.”

Labuschagne self is nog baie gesond, “behalwe vir ’n paar skete . . .”

“Ek het egter die stadium in my lewe bereik waar ek al my oorblywende sakebelange aan die kinders oorhandig het.”

Labuschagne, ’n tandheelkundige, was sy hele volwasse lewe lank ’n gesiene sakeman in Durban, en het in die direksie van ’n aantal maatskappye in die kleinhandel- en banksektor ge­dien.

Hy het vier kinders, Tim, Glendyr, Nicholas jr. en Caz, Pat Lambie se ma. Caz se eggenoot en Pat se pa, Ian Lambie, het in 1982 self vyf keer vir Natal uitgedraf.

Pat en sy vrou, Kate, het agt maande gelede die ouers geword van klein Jackson Lambie. Nic Labuschagne is nie net ’n bietjie trots op sy agterkleinkind nie!

icholas Arthur Labuschagne is op 26 Mei 1931 op Tongaat, noord van Durban, gebore.

“Dit was midde-in die Groot Depressie, maar ek was sedertdien geseënd met ’n lewe van absolute voorspoed,” erken hy.

Hy het skoolgegaan aan Hilton College, Pietermaritzburg, en dis daar waar die rugbygogga behoorlik bytplek gekry het.

“Ek is destyds gekies as haker. Toe, anders as deesdae, moes ’n haker nog haak!

“Ek sal nooit vergeet nie, in ’n oefenwedstryd teen die onderwysers kon een van ons spelers nie sy skrumpet opspoor nie, toe dra hy maar ’n liesband (jockstrap) om sy kop!

“Ek was bevoorreg om saam met wonderlike spelers soos ­Brian Pfaff (Springbok, 1956) en Paul Johnstone (Springbok, 1955-56) by Hilton te kon speel.”

Ná matriek het Labuschagne tandheelkunde aan die Universiteit van Kaapstad studeer. By Ikeys is hy afgerig deur dr. Louis Babrow, lid van die 1937-Springbokspan na Nieu-Seeland, en in 1950 is Labuschagne, toe maar net 19, vir die WP gekies.

“Ons het nog per trein getoer, en my eerste wedstryd was teen Natal op Kingsmead,” onthou hy. “Kingspark sou eers sewe jaar later gebou word.

“Die volgende wedstryd was teen Transvaal, wat oor ’n besonder sterk span beskik het met Bokke soos Hennie Muller, Johnny Buchler, Des Sinclair, Okey Geffin en Basie van Wyk in hul geledere.

“Dis toe dat ons afrigter my opdrag gegee om nét te haak; ek moes glad nie in enige ander aspek van die spel betrokke raak of beseer word nie.

“Dit,” sê hy met ’n lag, “het ek toegepas op die res van my loopbaan!”

Labuschagne word toe nietemin ’n paar jaar later uitgenooi na die Springbok-proewe, maar het Engeland toe verkas om sy hospitaaljaar by Guys-hospitaal in Londen te voltooi.

“Guys se rugbyklub was in daardie stadium die oudste ter wêreld. Ek is egter oorreed om by die sterker Harlequins aan te sluit, van waar ek gevorder het tot Middlesex, London Counties en, uiteindelik, Engeland.”

Nic Labuschagne, sy kleinseun Pat Lambie en sy agterkleinkind, Jackson. Foto: Verskaf

Labuschagne se toetsdebuut was op 17 Januarie 1953 teen Wallis voor ’n skare van 65 000 op Cardiff Arms Park. Engeland het met 8-3 gewen, maar die oorwinning is nie die enigste herinnering van sy vuurdoop nie.

“Ons het nie iets verspot aangevang soos om te oefen nie,” skerts hy.

“Ek het slegs ’n poskaart ontvang om my in kennis te stel dat ek ingesluit is in die Engeland-span teen Wallis, en dat ek teen elfuur die Vrydag voor die toets by Paddington-stasie moes aanmeld. Ek moes my eie stewels en broek saambring; die trui en kouse sou voorsien word.

“Ons het per trein vertrek uit Paddington en vroegmiddag in Cardiff aangekom. Ná ’n halfuur van rondhardloop, en ’n paar skrums en lynstane oefen, het ons die naaste kroeg opgesoek vir ’n bier!

“Die toets is egter met ’n week uitgestel weens ’n hewige sneeustorm, en ons moes die volgende Saterdag die tog na Cardiff herhaal.

“As ’n student was dit ’n bonus om twee keer, pleks van een keer, in ’n hotel getrakteer te word!”

Labuschagne sou Engeland in 1955 nog vier keer verteenwoordig: weer teen Wallis, asook teen Ierland, Frankryk en Skotland. Hy het in 1956 teruggekeer Durban toe.

“Ek het skaars voet aan wal gesit in die hawe toe Billy Bischoff my nader om vir Berea Rovers te speel!” sê hy.

Kort voor lank is Labuschagne deur die Natal-keurders nadergetrek. Die Piesangboere is in daardie stadium deur die legendariese Izak van Heerden afgerig.

“Izak was ’n briljante breier, wat die ware gees van die spel verstaan en aangegryp het,” sê Labuschagne, wat Natal 30 keer sou verteenwoordig, insluitende die onvergeetlike gelykopstryd teen die All Blacks in 1960.

Nadat hy sy stewels in 1962 opgehang het, het Labuschagne met die afsterwe van Brian Irvine in 1987 oorgeneem as president van die NRU. Hy het ook die ou SA Rugbyraad op die Internasionale Rugbyraad verteenwoordig en was nou betrokke by die verkryging van 1995 se Wêreldbeker-toernooi vir Suid-Afrika.

“Dit was ’n groot voorreg om Pat vir Suid-Afrika sowel as die Haaie te sien speel. Ek is veral trots op hom omdat hy so ’n beskeie en verstandige jong man is . . .”

Meer oor:  Nic Labuschagne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.