Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘As hy nie ontsteld is nie, hoort hy nie hier’

Die Blou Bul-flank Roelof Smit moet geduldig wees en sal sy kans kry om te wys wat in hom steek tydens die Curriebeker-reeks.

So het Pote Human, die Bulle se afrigter, gesê nadat hy Woensdag verras het deur die kantman-aanwins van die Haaie, Wian Vosloo, in die beginspan te kies vir die Curriebeker-stryd teen die Westelike Provinsie Saterdag in Kaapstad.

Wian Vosloo, wat hom onlangs vanaf die Haaie by die Bulle aangesluit het, is dadelik in die Bulle se beginspan ingesluit vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n moeilike besluit tussen Wian en Roelof,” het Human Woensdag by Loftus Versfeld gesê.

“Ek dink net Wian is ’n beter opsie in die lynstane, veral teen die WP, wat ’n goeie lynstaan het.”

Smit tel wel onder die plaasvervangers, maar is glo nie in sy noppies met dié besluit nie.

“Dis elke speler se reg om so te voel. As hy nie ontsteld is nie dan hoort hy nie hier nie. So dit behoort die beste uit hom te haal wanneer hy sy kans kry.”

Die Springbok-slot Lood de Jager het van sy skouerbesering herstel wat hom al sedert Februarie langs die kantlyn hou.

Sou De Jager teen die Streeptruie beïndruk, kan hy deur die Springbokke oorweeg word vir volgende Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies op Ellispark.

“Lood is ’n wêreldklas-speler en ons is bevoorreg om hom beskikbaar te hê vir die wedstryd. Hy moet homself aan Rassie (Erasmus) bewys en daarom is dit goed hy draf vir ons uit, want hy sal ’n punt wil bewys.”

Ons sal sien hoe die wedstryd verloop, maar Lood is reg en fiks en wil op die veld wees.

Human sê dat De Jager dalk selfs vir die volle duur van die wedstryd op die veld kan bly as hy goed lyk.

“Ons sal sien hoe die wedstryd verloop, maar Lood is reg en fiks en wil op die veld wees.”

Human sal in die CB-reeks ’n goeie idee kry van hoe die kern van sy groep sal lyk vir volgende jaar se Superrugby-reeks. Hy erken wel dat hy desperaat is om nie nóg spelers aan oorsese spanne af te staan nie.

Roelof Smit op die aanval vir die Bulle teen die Stormers. Foto: Gallo Images

“Dis altyd moeilik, want die geld daar buite is goed vir hulle, maar dit sal goed wees as ons ’n groep vir twee jaar kan behou.”

Die Springbok-skrumskakel, Embrose Papier, is ook in die beginspan nadat Human aan die einde van die Superrugbyreeks met André Warner volhard het.

Die Ligbloues se breier meen egter dat dit nie peil was wat Papier uit die beginspan gehou het nie, maar eerder hul rotasiestelsel.

Ek maak geen beloftes aan spelers nie. Hy kry sy geleentheid en hy moet wys waartoe hy in staat is.

Hy wou egter nie sê of Papier nou weer meer gereeld die regmerkie gaan kry nie.

“Dit hang af hoe hy speel. Ek maak geen beloftes aan spelers nie. Hy kry sy geleentheid en hy moet wys waartoe hy in staat is. Hy is ’n baie goeie speler en jy word nie sommer verniet ’n Springbok nie.”

Die voormalige Leeu-slot Andries Ferreira, wat sy rugbytande oorkant die pad by die Afrikaanse Hoër Seunskool geslyp het, het hom ook by die Bulle aangesluit en sal na verwagting volgende week oorweeg word.

Bulle: Divan Rossouw, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal (k), Rosko Specman, Manie Libbok, Embrose Papier, Tim Agaba, Wian Vosloo, Ruan Steenkamp, Lood de Jager, Ruan Nortjé, Wiehann Herbst, Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima. PLAASVERVANGERS: Johan Grobbelaar, Matthys Basson, Conraad van Vuuren, Jean Droste, Roelof Smit, Ivan van Zyl, Marnitz Boshoff, Dylan Sage.

Meer oor:  Roelof Smit  |  Pote Human  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.