Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote: Griekwas g’n aspoester-span

As daar iemand is wat van beter weet as om Griekwas vlak te kyk, is dit Pote Human.

Embrose Papier, skrumskakel van die Blou Bulle, sal oorgehaal wees om sy reputasie teen Griekwas ’n hupstoot te gee. Foto: Gallo Images

Die Bulle-breier het self op sy dag in Kimberley planne beraam om van die groot spanne in die Curriebeker-kompetisie te laat struikel.

Hy weet dus presies hoe bevredigend dit vir sy eweknie, Brent Janse van Rensburg, sal wees as Griekwas Saterdag op Loftus Versfeld met die Ligbloues kan afreken.

Human het vandeesweek, toe hy gevra is of die besoekers kwesbaar kan wees nadat hulle verlede week in Bloemfontein 68 punte teen die Cheetahs afgestaan het, met oortuiging wal gegooi.

“Nee, ons lees niks daarin nie. Hulle het ’n afdag gehad,” het hy gesê.

Trouens, ná die Bulle se wankelende wegspring in die kompetisie, hoop Human dit is nie sy span wat weer ’n afdag het nie.

Dit is ongelukkig ’n kwaal wat heel gereeld kop uitsteek: ’n Bulle-span wat nie “opdaag” nie.

Human verseker sy span sal nie oorgerus wees of met gebrekkige toewyding by Loftus aankom nie.

“Daar is te veel op die spel. Die manne weet as ons nog een wedstryd verloor, gaan ons nie naby die beker kom nie.

“Ons hantering moet verbeter en die dissipline was ook nie goed gewees teen die Pumas nie. Daar was te veel kere wat ons besit afgestaan het in hul kwartgebied.”

Kyk jy na die twee spanne op papier, is dit duidelik dit behoort grotendeels eenrigting-verkeer vir die Bulle te wees.

Veral ná verlede week se slagting in Bloemfontein.

Die manne weet as ons nog een wedstryd verloor, gaan ons nie naby die beker kom nie.
Pote Human

Human maan die Poubloues is ’n ander span onder Janse van Rensburg, wat waarskynlik die mees onderskatte afrigter in Suid-Afrikaanse rugby is.

Die Bulle se modus operandi is eenvoudig: die agttal moet vir die skakelpaar, Manie Libbok en Embrose Papier, die grondslag skep om met oorgawe te speel.

Libbok en Papier het tot dusver nog tot hulle volle reg gekom in die reeks nie en kan baie meer bied op die aanval.

Papier het verlede seisoen gelyk of geoormerk is om Faf de Klerk se adjudant by die Wêreldbeker-toernooi te wees, maar hy het sedertdien te min gedoen om sy insluiting te regverdig.

So ook sal Griekwas weet die tuisspan sal onder druk wees as dié Bulle-duo ontwrig word.

Die flank Marco van Staden sal hoopvol wees dat hy midde-in die Bulle se oorheersing, ’n vertoning kan lewer wat sy WB-aandele sal laat styg.

Spanne:

Blou Bulle: Divan Rossouw, Cornal Hendricks, Dylan Sage, Johnny Kotze, Rosko Specman, Manie Libbok, Embrose Papier, Tim Agaba, Marco van Staden, Ruan Steenkamp (k), Ruan Nortjé, Andries Ferreira, Wiehahn Herbst, Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima. PLAASVERVANGERS: Johan Grobbelaar, Dayan van der Westhuizen, Conraad van Vuuren, Adré Smit, Wian Vosloo, André Warner, Marnitz Boshoff, Stedman Gans.

Griekwas: Anthony Volmink, Ederies Arendse, Michal Haznar, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Zak Burger, Niell Jordaan, Sias Koen, Gideon van der Merwe, Victor Sekekete, Ian Groenewald, Ewald van der Westhuizen, AJ le Roux, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Wilmar Arnoldi, Mox Mxoli, Johan Momsen, Zandré Jordaan, Chriswill September, Chris Smit, Godfrey Ramaboea, Ruan Kramer.

Skeidsregter: Divan Uys.

Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs, Griffin Colby.

TV-skeidsregter: Pro Legoete.

Afskop: 17:15 (SS 1).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.