Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote Human het nog nie só iets beleef

Pote Human, afrigter van die Blou Bulle, het gisteraand ná sy span se merkwaardige oorwinning oor die Leeus gesê hy was nog nooit by so ’n wedstryd betrokke nie.

Die Bul-stut Dayan van der Westhuizen oor vir ’n drie in gister se wedstryd teen die Leeus op Ellispark.Foto: deon raath

En dis verstaanbaar, want selfs nie die ondersteuners van die twee spanne kon hul oë glo dat eers 14, en toe ook vir ’n slag 13 Bulle, hul man sou kon staan teen ’n volle Leeus-span nie.

Manie Libbok, losskakel van die Bulle, was in alle opsigte die held in die Bulle se oorwinning met 31-26 in die Curriebeker-stryd teen die Leeus op Ellispark.

Die vlugvoetige losskakel het ’n aandeel in twee van sy span se drie drieë gehad, self een gedruk en boonop nog vier strafdoele en twee doelskoppe deur die pale geklits vir ’n dramatiese oorwinning oor die Leeus.

Human het sy spelers se karakter geloof.

“Ek dink nie ek was al ooit in so ’n wedstryd betrokke nie. Ek haal my hoed af vir die ouens en die karakter wat hulle gewys het – veral met 14 en toe nog 13 spelers. Die rooikaart het die ouens vir vyf minute geskok, maar ná dit het dit definitief nie gelyk asof ons met 14 spelers gespeel het nie,” het Human gesê.

Hy wou hom nie oor Fred Eksteen se rooikaart uitlaat nie, anders as om te sê “dit was nie opsetlik nie.

“Ek wil nie regtig oor die kaart kommentaar lewer nie, maar dit was moeilik. Dit was hard op Fred, ek blameer hom nie, hy was reg vir die wedstryd en dit was nie opsetlik nie. Ons sal dit vat en met hom werk. Hy sal hopelik nog ’n kans kry. Op die oomblik is ek net gelukkig oor die wen.

“Ons het nog een wedstryd oor. Ek het die ouens gevra om hierdie een te geniet en ons weet ons skuld ons ondersteuners ’n goeie wen op Loftus. Die Haaie het vandag gewen, so dit sal moeilik wees. Die druk is so ’n bietjie af, maar ten minste glimlag elke Bulle-ondersteuner vanaand.

Die Leeu-afrigter, Cash van Rooyen, glo die Bulle was meer desperaat om te wen.

“Dit was ’n eienaardige wedstryd,” het Van Rooyen gesê. “Hulle was desperaat en jy kon dit sien en hulle verdien dit. Ons moet hieruit leer en ons moet vinnig leer, want die kompetisie is kort. Toe hulle 13 was, en ook 14, het ons genoeg geleenthede geskep, maar hulle was net beter. Ons moet net beter word.”

Die Leeus-kaptein, Ross Cronjé, het gesê dit was vroeg al duidelik sy span was minder honger as hul teenstanders.

“Van die eerste minuut af was dit duidelik hulle is hongerder as ons. Ek het gevoel ons het gedink dit sou vir ons net gebeur. Ons het nooit momentum gehad nie en fout ná fout ná fout gemaak.”

Eksteen is met ’n rooikaart van die veld gejaag toe hy ’n Leeus-speler met die skouer teen die kop geloop het.

Die tuisspan het danksy die rooikaart hul weg terug in die wedstryd gekry ná ’n strafdrie vanaf ’n skrum voordat die losskakel Shaun Reynolds ’n drie gedruk het om sake gelyk te maak.

Libbok het egter sy span, met 14-spelers en al, die voortou teen rustyd gegee met twee strafdoele. Hy was strykdeur die Bulle se katalisator op die aanval. In die tweede helfte het hy ook ’n desperate duikslag gemaak wat ’n seker drie gekeer het.

Hoe die Leeus gesukkel het om punte teen 14 spelers aan te teken, en later teen 13, sal net hulle weet.

Dis asof die tuisspan gemeen het punte gaan vanself kom ná daardie twee vinnige drieë wat kort op die rooikaart gevolg het. Hulle het hulself egter lelik misgis.

Andries Ferreira, Bulle-slot, is op 60 minute ge-geel en Dylan Sage, Bulle-senter, is in die doodsnikke ook met ’n geelkaart afgestuur.

  • Punte:
Goue Leeus 26 (18): Drieë: ’n Strafdrie, Shaun Reynolds, Pieter Jansen, Stean Pienaar. Doelskoppe: Reynolds (2).
Blou Bulle 31 (16): Drieë: Cornal Hendricks, Dayan van der Westhuizen, Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (2). Strafdoele: Libbok (4).Drieë: Cornal Hendricks, Dayan van der Westhuizen, Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (2). Strafdoele: Libbok (4).
Meer oor:  Blou Bulle  |  Leeus  |  Pote Human
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.