Pote Human word as die sterkste aanspraakmaker beskou om dié week as die Blou Bulle se Curriebeker-afrigter aangestel te word.

Pote Human
Die Blou Bulle sal Woensdag op ’n raadsvergadering besluit wie Nollis Marais gaan vervang.
Human was in 2006 die hoofafrigter van die Bulspan wat die Curriebeker met die Cheetahs gedeel het. Hy is tans een van John Mitchell se hulpafrigters in die Superreeks.
Human het die Vrystaat 62 keer as kaptein aangevoer en het al as Tuks se hoofafrigter die Varsitybeker verower.
Hy word vanweë sy ervaring as die sterkste aanspraakmaker op die vakante pos as die Bulle se Curriebeker-hoofafrigter beskou. Een of twee van die Bulle se jonger afrigters kan saam met hom op die afrigterspan dien, maar sy aanstelling sal waarskynlik Woensdag goedgekeur word.
Mitchell sal tydens die Curriebeker as die Bulle se hoof van rugby kans gegun word om baie van sy aandag op die strukture van die junior spanne te rig. Hy sal die kans onder meer wil gebruik om hom behoorlik van die Bulle se jong talent te vergewis. Vanweë die Bulle se Super-verpligtinge het Mitchell min tyd gehad om sover ’n bydrae by die junior spanne te lewer.
Goeie nuus vir ondersteuners is dat Mitchell beplan om sy kontrak by die Bulle te verleng.
Sy aanvanklike kontrak eindig in 2019, maar onderhandelings verloop vlot om hom tot 2021 op Loftus Versfeld te hou.
Dis nog onseker of die Bulle dadelik ’n aankondiging ná Woensdag se vergadering oor hul nuwe Curriebeker-hoofafrigter sal maak.