Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote: Josh gaan toetsstewels ná WB ophang

Die Bulle sal hulle nie in 2020 daaroor hoef te bekommer dat hul losvoorspeler-aanwins, die Skotse toetsflank en Suid-Afrikaner van geboorte, Josh Strauss, hom tydens die Superrugby-reeks vir nasionale diens in Edinburg sal moet aanmeld nie.

Die Bulle se afrigter, Pote Human, het Dinsdag bevestig dat Strauss, wat tans deel is van Skotland se Wêreldbeker-oefengroep, ná afloop van dié skouspel in Japan uit toetsrugby gaan tree.

Die Skotse toetsflank en voormalige Leeus-speler Josh Strauss sal volgens Pote Human, die Bulle se afrigter, ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi klaar wees met toetsrugby. Foto: Getty Images

“Hy maak hierdie jaar in Skotland klaar en sal hom voltyds by die Bulle aanmeld ná die WB-toernooi,” het Human gesê.

Die Sesnasiesreeks word tradisioneel in Februarie en Maart beslis en as Strauss volgende jaar toetsrugby bly speel het, sou dit beteken dat hy die Bulle se eerste vier, vyf wedstryde sou misloop.

Human glo die 32-jarige Strauss, wat 22 toetse op sy kerfstok het, sal ’n soortgelyke rol as Duane Vermeulen en Schalk Brits vir die Bulle speel in volgende jaar se Superrugby-reeks.

“Ons het senior ouens nodig. Ek dink meeste van ons senior spelers gaan ons nou verlaat of het ons reeds verlaat, so ’n ou soos Josh bring ondervinding.

“Hy hoop om Wêreldbeker toe te gaan en het as die Leeus se kaptein ook groot sukses behaal, so ek dink hy sal baie waarde vir ons toevoeg.”

Human het Dinsdag, by die aankondiging van die Blou Bulle se span vir die Curriebeker-stryd teen die Vrystaat-Cheetahs, gesê hulle sal straks die res van die reeks sonder die slot Lood de Jager oor die weg moet kom.

De Jager het verlede week teen die Westelike Provinsie gespeel, maar het hom vandeesweek weer by die Springbokke aangesluit.

Hy kan egter op die knoppie van die voormalige Leeus-speler, Andries Fereirra, druk om in De Jager se afwesigheid in te staan.

“Andries het regtig die afgelope drie weke hard geoefen. Hy is uitgehonger vir rugby en wil graag speel. Hy het baie lanklaas gespeel en hy erken dit ook, maar dis hoekom ek hom eerder laat begin en nie van die bank af speel nie – dat hy speel so lank as wat hy kan. Sy ondervinding sal ook baie waarde toevoeg.”

De Jager kan wel weer die Ligblou-trui dra indien hy nie in die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, se toergroep ingesluit word wat na Nieu-Seeland sal reis vir ’n toets teen die All Blacks nie.

“As hy nie reis nie, sal hy beslis vir ons beskikbaar wees.”

Volgens Human was die opdrag dat al die spelers wat nie saamreis nie wel vir hul onderskeie spanne in die Curriebeker-reeks verteenwoordig.

Ofskoon die kantman Marco van Staden op die plaasvervangersbank ingesluit is vir die wedstryd die naweek, is Human nie seker wat die Springbokke se plan met dié vuurvreter-flank is nie.

“Soos ek verstaan is hy speler nommer 24 (vir die Bokke), so hy is daar vir ingeval hulle ’n besering kry. Daarom het hulle gesê hy is beskikbaar om die naweek vir ons te speel. Ongelukkig kan hy nie saam met ons oefen nie en dis hoekom ons hom as plaasvervanger gekies het.”

Die Blou Bulle kom Vrydagaand in hul eerste tuiswedstryd teen die Vrystaat te staan.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Vrystaat  |  Josh Strauss  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.