Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote kom ‘huis toe’ om Shimlas af te rig

Pote Human het “huis toe” gekom.

Hy is as die Shimlas se hoofafrigter vir die 2021-Varsitybeker-reeks aangestel en sal die rugbyspan ’n tweede keer brei.

Human – wat vir sewe maande aangestel is – het gesê hy het nog altyd ’n “sagte plekkie” vir die Vrystaat gehad waar hy al op klub-, universiteit- én provinsiale vlak afgerig het.

Hy het die Bulle se Superrugby-span in 2019 en 2020 gebrei. Hy val reeds op 2 November by die Universiteit van die Vrystaat in.

Pote Human val op 2 November by die Universiteit van die Vrystaat in as die Shimlas se nuwe Varsitybeker-afrigter. Foto: Gallo Images

Hy neem oor by die voormalige Springbok-flank Hendro Scholtz, wat weens werkverpligtinge die pos laat vaar het en voortaan die hulpafrigter sal wees.

Human het ’n lang verbintenis met Vrystaat-rugby en het voorheen ook die Bulle, Griekwas, Tukkies en die Ricoh Black Rams in Japan afgerig.

“Bloemfontein het wonderlike mense en die Shimlas het ’n lekker bestuurspan. Ek ken vir Jaco (Swanepoel), wat my seun Gerhard by Grey-kollege afgerig het, sedert my jare as Shimla-afrigter,” het Human, wat dié studentespan van 2000 tot 2004 afgerig het, in ’n verklaring gesê.

“Ek is veral trots daarop dat die Shimlas in 2004 die Super Bowl-toernooi (soortgelyk aan die Varsitybeker), die Stadsbeker én die Nasionale Klubtoernooi gewen het.

“Verskeie van die jong manne wat destyds vir die Shimlas uitgedraf het, waaronder Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Gurthrö Steenkamp, CJ van der Linde, Ruan Pienaar en Wian du Preez, het later Springbokke geword.”

Human is in Mei deur die voormalige Bok-breier Jake White as die Bulle se hoofafrigter vervang.

Die Bulle het in 2019, onder Human se leiding, as die voorste Suid-Afrikaanse span op die puntelys in Superrugby klaargemaak en tot die kwarteindronde deurgedring.

Human se afrigtingsloopbaan het in 1994 as voorspeler-afrigter, onder wyle Nelie Smith, by die Vrystaat begin.

Die Vrystaters het daardie jaar die Curriebeker-eindstryd gehaal, waar hulle teen die destydse Transvaal in Bloemfontein verloor het.

Hy is die regte man op die regte tyd vir dié taak. Sy aanstelling is ’n teken van vertroue in die toekoms van Vrystaat-rugby.

Daarna het Human die Polisie-rugbyklub in die Rosestad afgerig voordat hy hom in 2000 by die Shimlas aangesluit het.

“Pote is ’n deurwinterde afrigter wat iets nuuts na die span sal bring,” het Swanepoel, hoof van rugbyafrigting en hoëprestasiesport by die universiteit, gesê.

Ryno Opperman, voorsitter van die Vrystaat-Cheetahs se direksie, het ook hoë agting vir Human, onder wie se afrigting hy as Vrystaat-kaptein gespeel het.

“Hy is die regte man op die regte tyd vir dié taak. Sy aanstelling is ’n teken van vertroue in die toekoms van Vrystaat-rugby.

“Die Vrystaat-Cheetahs is die Curriebeker-kampioen en dit is belangrik dat die Vrystaat moet volhard met die ontwikkeling van spelers se talente.

“Dit is bemoedigend om te sien dat spelers en afrigters soos Pote, Ruan Pienaar en Frans Steyn weer terugkeer na die unie waar hulle wortel geskiet het,” het Opperman gesê.

Meer oor:  Shimlas  |  Pote Human  |  Varsitybeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.