Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote: ‘Man, dit was vrek lekker!’

So skop jy mos ’n toer af!

Die Bulle se afrigter, Pote Human, het breed geglimlag nadat sy span Vrydag vir die eerste keer in drie jaar buite Suid-Afrika gewen het.

“Man, dit was vrek lekker,” het Human gelag nadat sy span ondanks min balbesit met 32-17 met die Melbourne Rebels afgereken het.

Een-een gaan jul my nie keer nie! Die Bulle-agtsteman, Duane Vermeulen, beur Vrydag in Melbourne vorentoe terwyl die Rebels-verdedigers om hom saamkoek. Foto: Getty Images

Veral ná die loesing teen die Crusaders sewe dae vroeër was die vertoning in Melbourne een van die Bulle se bestes vanjaar.

Die Pretorianers het net 38% van die balbesit gehad en selfs nog minder (28%) gebiedsvoordeel. Maar hulle het geduik en geduik en geduik, en nooit ’n kans om terug te slaan laat verbygaan nie.

“Die ouens se verdediging, veral in die eerste helfte, was uitstekend. Daarby het ons die punte gekry wat ons nie verlede week op Loftus kon insamel nie,” het Human gesê.

“Ek het op ’n kol (tydens die wedstryd) gedink ons gaan dit nie maak nie, maar die ouens het ingeklim en vir mekaar gespeel, en dit het gewys.”

Noudat die toer op so ’n hoë noot afgeskop het, kan die Bulle nie wag om volgende week in Canberra die Brumbies te pak nie.

“Hulle weet nou ons kan dit doen,” het Human gesê.

“Daar was altyd daardie ding oor ons koppe dat die Bulle nie oorsee kan wen nie, so die wen teen die Rebels maak dit baie lekker.

Daar was altyd daardie ding oor ons koppe dat die Bulle nie oorsee kan wen nie, so die wen teen die Rebels maak dit baie lekker.
Pote Human

“Ek dink dis altyd moeilik in Canberra, maar die ouens gaan die komende week baie positief tegemoet. As ons die Brumbies kan klop, het ons teen al vier die Aussie-spanne gewen. Dit sal ons bo-aan die konferensie hou.”

Terwyl Rosko Specman en Duane Vermeulen Vrydagaand die Bulle se grootste sterre was, het Human veral vir Tier Schoeman uitgesonder as ’n uitblinker.

Schoeman sal Vermeulen se skoene moet volstaan in Nieu-Seeland wanneer hy volgens ’n ooreenkoms met die Springbokke vir sy ruskans terug na Suid-Afrika keer.

“Tier het regtig goed gespeel. Duane speel nog die naweek vir ons, maar dan sal Tier agsteman toe skuif. Dit wys jou net: As hy ’n geleentheid kry . . . hy is so honger, hy gee sy lewe vir die span.”

Meer oor:  Melbourne Rebels  |  Bulle  |  Pote Human
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.