Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote sê Bulle fokus nie op Jake-kwessie

Ons het geen beheer oor dit wat in die raadsaal gebeur nie. Fokus op dit wat op die rugbyveld gebeur.

Dít, in ’n neutedop, was Pote Human, afrigter van die Bulle, se boodskap aan sy spelers toe hy die Jake White-kwessie met hulle bespreek het.

Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, sê die praatjies oor Jake White se moontlike betrokkenheid by dié span sal nie die spelers se aandag aflei voor hul wedstryd teen die Reds nie. Foto: Getty Images

Hy het Woensdag uit Sydney laat weet die Bulle-besluitnemers se vergadering Maandag met dié voormalige Springbok-afrigter is glad nie ’n fokuspunt in die aanloop tot Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Reds in Brisbane nie.

White word beskou as ’n moontlik opvolger vir Alan Zondagh, wat verlede maand die tuig neergelê het as die Bulle se direkteur van rugby.

“Ek het duidelik vir die spelers gesê, ons het geen beheer oor wat in die raadsaal gebeur nie.

“Ons fokus op ons werk. As ons kan wen, maak dit die saak vir my makliker. Ek het eintlik gedink julle (rugbyskrywers) het dalk vir my nuus,” het Human geskerts.

Daar word by Loftus Versfeld agter die skerms planne beraam vir die toekoms.

Human se kontrak as hoofafrigter verstryk aan die einde van Oktober en die kans is skraal dat hy in die pos sal aanbly.

Ons het met Jake gepraat, maar daar sal nie binnekort ’n aanstelling gedoen word nie. Dit is ’n proses wat baie tyd vat.
Alfons Meyer

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), sê dit is nie ’n uitgemaakte saak dat Zondagh se vakante pos wel gevul sal word nie.

“Dalk word die twee poste (hoofafrigter en direkteur van rugby) gekombineer of dalk is dit nodig om twee aanstellings te doen.

“Ons is die enigste franchise wat ’n direkteur van rugby gehad het en dit is duur. Dit is iets waaroor ons vorentoe ’n besluit sal moet neem.”

Meyer sê daar is, buiten White, verskeie opsies waarna gekyk word.

“Ons het met Jake gepraat, maar daar sal nie binnekort ’n aanstelling gedoen word nie. Dit is ’n proses wat baie tyd vat.

“Die ouens wat oorsee afrig, is almal tans gekontrakteer en ons sal hulle óf daaruit moet koop óf hulle moet versoek om vrygestel te word.”

Die naam van Johann van Graan, hoofbreier van Munster in Ierland, word genoem, maar hy is nog tot Junie 2022 gekontrakteer.

Die Bulle het in 2018, nadat John Mitchell bedank het om by Engeland aan te sluit, voelers uitgesteek na Johan Ackermann, wat Gloucester tans afrig.

Dié voormalige afrigter van die Leeus het egter ook verlede jaar sy kontrak in Engeland verleng.

Meer oor:  Bulle-Afrigter  |  Pote Human  |  Jake White  |  Bulle  |  Alfons Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.