Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote sien rooi ná slae: ‘Dis ’n skande’

Dit is ’n skande vir die Ligblou-trui.

Pote Human, afrigter van die Blou Bulle, het sy span se vertoning gisteraand in die Curriebeker-reeks op Loftus Versfeld teen Griekwas só opgesom.

Die Bulle se onverwagse nederlaag met 15-37 beteken die Pretoriase span is nou uit die wedloop in die kompetisie.

Human is gevra waar laat die uitslag sy span.

Daar is geen keer aan Eduan Keyter van die Griekwas gister in die Curriebeker-stryd teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld nie. Foto: Gallo

“Wel, rock bottom. Ons is nou laaste op die puntelys en ons gaan sukkel om op te skuif. Ons speel volgende teen die Leeus, wat onoorwonne is.

“Ek dink nie ons het meer ’n kans om die halfeindronde te haal nie.

“Dit is ’n groot teleurstelling, want die meeste van ons spelers het Superrugby-ervaring. Daar is werklik geen manier om die swak vertoning te regverdig nie.”

Griekwas se breier, Brent Janse van Rensburg, was verstaanbaar in sy noppies met die wyse waarop sy span gespeel het ná verlede naweek se groot nederlaag teen die Vrystaat-Cheetahs.

“Ons moes vroeg aangepas het nadat ons aanvanklik onder druk was (die Bulle was vroeg 10-0 voor). Jy is maar altyd bekommerd oor die invloed op jou spelers as jy so groot telling teen jou gehad het. Ek is bly die spelers het so teruggeveg.”

Hy sê hulle gaan nie nou die fout maak om te dink aan die halfeindstryd nie.

“Daar is nog twee wedstryde oor en daar kan nog baie gebeur. Iets soos ons besluitneming kon beter gewees het en daar is nog baie om aan te werk.”

Dit was waarskynlik die kleinste opkoms ooit op Loftus Vers­feld vir ’n Curriebeker-wedstryd en soos die Bulle gespeel het, het hulle die yl skare verdien.

Met dié vertoning wink die houtlepel boonop vir die Bulle.

Gee lof waar dit toekom. Griekwas het met groter dringendheid en durf gespeel en is met dié oorwinning nou boaan die puntelys.

So goed soos wat die besoekers was, so treurig was die Ligbloues. Lanklaas het die Bulle kanse om te gaan druk só verkwis.

Die vleuel Rosko Specman se aanslaan ná hy in die hoekie oor die doellyn is, is onverskoonbaar. So ook die plaasvervanger Wian Vosloo se skouerloop op die Griekwas-senter Michal Haznar toe Manie Libbok oorgeduik het.

Die Bulle het vroeg toegeslaan toe Specman vir sy soveelste drie die seisoen pale toe is nadat sy buitesenter, Dylan Sage, ’n swak aangee netjies opgeraap en ’n bres geslaan het.

Dié oorheersing was van korte duur en Griekwas het geantwoord met 20 onbeantwoorde punte voor rustyd, te danke aan die skrumskakel, Zak Burger, wat twee keer gaan afrond het.

  • Punte
  • Rosko Specman, Marco van Staden. Strafdoel: Manie Libbok. Doelskop: Libbok
  • Zak Burger (2), Eduan Keyter, Victor Sekete. Strafdoele: George Whitehead (3). Doelskoppe: Whitehead (4).
Meer oor:  Blou Bulle  |  Loftus Versfeld  |  Curriebeker-Reeks  |  Pote Human  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.