Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote: ‘Trek op jul sokkies of sê koebaai!’

Verander jou houding of moenie eens daaraan dink om volgende jaar Superrugby te speel nie.

Dít is die waarskuwing wat die Blou Bul-afrigter, Pote Human, aan sy span gerig het ná hul loesing van 27-43 teen die Cheetahs Vrydagaand op Loftus.

Die nederlaag, die Bulle se tweede in twee wedstryde in vanjaar se Curriebekerreeks, los hulle met ’n steil bult om te klim om die halfeindronde te haal. Hulle sal al hul oorblywende wedstryde moet wen om ’n kans in vanjaar se kompetisie te staan.

Darren Adonis duik eergisteraand sierlik oor die Bulle se doellyn vir sy drie.Foto: gallo

Maar te oordeel aan Vrydagaand se vertoning, sal dit nie gebeur nie. ’n Gebrek aan ’n positiewe houding, verspeelde kanse en swak verdediging het die Cheetahs in staat gestel om die Bulle voorlangs ore aan te sit en verspot maklik op Loftus te wen.

En Human was woedend ná die tyd.

“Laasweek het ons dit in die skrums verloor. Die week was dit ons houding. Om te têkkel is ’n houding-ding en vanaand was daar niks daarvan nie,” het Human ná die wedstryd gesê.

“Ek het meer verwag, maar sal dit op die ken vat. Ons moet ons houding drasties verander, anders gaan ons nie ’n wedstryd in dié kompetisie wen nie. As ons nie ons houding kan regkry nie, gaan ons baie sukkel.

“Die strukture op verdediging is daar, maar as jy man-op-man-têkels mis, gaan jy altyd verloor.

“Dit is vir my ernstig. Ons het vier wedstryde oor en moet nou al vier wen. Twee van hulle is tuis, maar die Poemas wag in Nelspruit en die Leeus op Ellispark gaan moeilik wees. Ons het die Haaie en Griekwas hier op Loftus, en Griekwas is tans op vorm, so dit gaan nie maklik wees nie. Dié week is van uiterste belang vir ons. Ons moet dit so gou moontlik omdraai. Maar dit is my werk en dit is waarvoor ek betaal word.”

Human het gesê om die kaptein, Burger Odendaal, kort voor die wedstryd te verloor was ’n slag, en die Bulle het leierloos op die veld gelyk.

“Dit was ’n massiewe terugslag, sy organisasievermoë en leierskap – ons het dit gemis. Die ander ouens moes opstaan en wys hulle hoort hier. Maar die meeste van die spelers is volgende jaar hier. Hulle wil volgende jaar Superrugby speel, maar as hulle só gaan speel, kan hulle vergeet om volgende jaar Superrugby vir die Bulls te speel.

“Die Cheetahs het goed gespeel. Hulle was fisiek en het ons voor ore aangesit.”

Intussen het Franco Smith, die Cheetahs-afrigter, gesê die oud-Springbok Ruan Pienaar kan al volgende week by die span inval. Pienaar het onlangs ná ’n lang loopbaan oorsee weer by die Bloemfonteinse span geteken.

Ruan sal so gou as moontlik hier wees. Daar was baie goed aan die gang in Ierland en hy kon nie ’n kwotasie kry om sy meubels te trek nie.
Franco Smith

“Ruan sal so gou as moontlik hier wees. Daar was baie goed aan die gang in Ierland en hy kon nie ’n kwotasie kry om sy meubels te trek nie,” het Smith gesê.

“Ruan sal by ons aansluit sodra hy hier aankom en hopelik is dit volgende week.”

Smith was duidelik in sy noppies met die oorwinning, maar wou nie te opgewonde raak nie.

“Ek is baie tevrede met die uitslag , maar ons het nog harde werk wat voorlê. Ons moet nog werk om wedstrydskerp te raak. Die feit dat ons nie voorseisoenwedstryde gehad het nie, het soms die aanval ’n bietjie belemmer. Daar is nog baie ruimte om te verbeter,” het hy gesê.

Franco Smith

“Ons moet realisties wees. Ons moenie te veel in die uitslag lees nie. Dit is ons eerste wedstryd en dit gaan moeilik wees om ekstra druk op die spelers te sit. Hulle het hard gewerk en daar is baie oud-Bulle in die span. Hulle het Bloemfontein toe gekom en hard gewerk. Die Pro14 is die standaard waarteen ons onsself meet, maar dit is nog vroeg in die kompetisie.”

Ses oud-Bulle het vir die Cheetahs gespeel.

“As jy Bloemfontein toe kom, huil jy twee keer: Wanneer jy daar aankom, en wanneer jy loop. Ek dink nie daar was baie motivering nodig nie. Ek moes die emosie uit die wedstryd probeer hou. Ek het juis vir die spelers gesê hulle moet regs draai as hulle inloop, en nie links nie, om die regte kleedkamer te kry,” het Smith gesê.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Cheetahs  |  Superrugby  |  Pote Human
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.