Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pote wil toeskouers na Loftus terug lok

In die woorde van die Frank Sinatra-treffer, My Way, het Pote Human Dinsdagoggend, toe hy onthul is as die Bulle se nuwe Superrugby-afrigter, gesê hy gaan dinge op sy eie manier doen.

“My grootste taak is om Loftus Versfeld weer vol te maak,” het die 59-jarige Human gesê.

“As hierdie span nie wen nie, gaan die toeskouers wegbly en sal die stadion nie vol wees nie. Dit is my doelwit om Loftus weer gereeld vol te sien,” het Human gesê.

Pote Human Dinsdag op Loftus Versfeld. Hy is as die Bulle se nuwe Superrugby-afrigter aangewys.Foto: Deaan Vivier

Ná maande se bespiegelings is John Mitchell se opvolger aangewys en het die deurwinterde Human as’t ware by die agterdeur ingeglip om die pos te kry.

“Ja, daar sal diegene wees wat my aanstelling as ’n nagedagte sien, maar dit motiveer my juis om ’n sukses daarvan te maak,” sê hy.

“Ek het die ervaring en die agtergrond om ’n sukses van hierdie taak te maak en die Bulle in ’n wenspan te verander. Dit is ’n eer en voorreg om die Bulle se Super-afrigter te wees en ek het die heeltyd gehoop ek sal die uitverkorene wees. Toe ek Maandag gehoor het ek het die werk, was ek oorstelp van vreugde.

“Dissipline gaan die hoeksteen vir my wees. Ek wil die span in ’n eenheid saamsnoer.

“Ek gaan dinge ook doen soos ek dit sien en hoe ek daarin glo. Ek is Pote Human. Ek is nie Heyneke Meyer (die voormalige breier van die Bulle en Springbokke) of wie ook al nie. Ek kan nie ’n Heyneke Meyer of enige ander afrigter wees nie. Ek moet getrou bly aan dít waarin ek glo wat vir my belangrik is.

Ek is Pote Human. Ek is nie Heyneke Meyer of wie ook al nie. Ek kan nie ’n ander afrigter wees nie. Ek moet getrou bly aan dít waarin ek glo wat vir my belangrik is.
Pote Human

“Ek pak hierdie taak ook nie alleen aan nie. Ek hou daarvan om ander in te trek en dat ons saam aan hierdie doelwit werk. Wat my afrigtingspan betref, sal ek na die plaaslike talent hier by die Bulle kyk en ook mense van buite inbring,” het Human gesê.

Sy kontrak is eers net vir ’n jaar lank, maar die president van die Blou Bulle, Willem Strauss, sê Human is aangestel om suksesvol te kan wees.

“Die jaar 2019 gaan ’n deurslaggewende jaar vir die Bulle wees. Ons moet ’n wenkultuur skep ná wat seker die agt maerste jare in ons geskiedenis was,” het Strauss gesê.

Human vertel hy streef daarna dat die Bulle die uitspeelrondes moet haal en ’n tuis-kwarteindstryd verseker.

“Daar gaan altyd druk op ons wees, maar ek glo ons het die personeel en spelers om dit suksesvol te verwerk. Verlede jaar is talle wedstryde weggegooi wat gewen kon word en dit moet aandag geniet. Ons moet ook veel beter speel met die omgekeerde besit,” sê hy.

As speler het hy vir die Oostelike Provinsie en Vrystaat uitgedraf en as afrigter was hy in 1995 betrokke by die Suid-Afrikaanse ol23-span, waarna die Shimlas, Blou Bulle, Griekwas en die Ricoh-klub in Japan gevolg het. Hy het ook vir Tuks in die Varsity-beker afgerig voordat hy weer by die Bulle betrek is en hul Curriebeker-span vanjaar afgerig het.

Die Blou Bulle het onder hom ’n naelskraapse nederlaag in die halfeindronde teen die Westelike Provinsie gely.

Die Blou Bulle het onder hom ’n naelskraapse nederlaag in die halfeindronde teen die Westelike Provinsie gely.

Strauss sê Human het hom op alle vlakke bewys en dit is vir hom en die Bulle ’n voorreg om iemand van sy kaliber as afrigter te kan hê

Meer oor:  Pote Human  |  Willem Strauss  |  Pretoria  |  Rugby  |  Superrugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.