Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Poubloue oor Bok: ‘Wilco is ’n groot seun’

Menige stut sou al eerstehands beleef het dat die Springbok-voorryman Wilco Louw nie jou speelmaat in die skrums op die rugbyveld is nie – iets wat Griekwas se Andrew Beerwinkel ook van kan getuig.

Sien jou later! Andrew Beerwinkel sit af op ’n lopie vir die Pumas teen die Vrystaat-Cheetahs in 2018 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die 27-jarige Beerwinkel, ’n boorling van Saron in die Wes-Kaap, het laat in 2019 die Pumas gegroet en in Kimberley ’n nuwe tuiste gevind.

Hy het al draaie by die Blou Bulle en Goue Leeus gemaak, sonder om hom behoorlik te vestig, deels omdat sy fokus vir lank op sy studie was.

Dit was juis by die Pretorianers, waar Louw sy junior rugby gespeel het, dat Beerwinkel die eerste keer beleef het dat Louw hom nie in die enjinkamer op die veld laat rondstoot nie. Jare later, toe die Pumas in 2019 teen die Westelike Provinsie in ’n Curriebeker-wedstryd in Kaapstad te staan gekom het, het Louw steeds sy stem dik gemaak – iets wat Beerwinkel nie maklik sal vergeet nie.

“As ek aan iemand moet dink wat die moeilikste stut is waarteen ek al gespeel het, sal ek sê dit is Wilco. Ek en Wilco was saam by die Bulle in ons jonger dae, so ek ken hom so ’n bietjie.

“En ja, Wilco is ’n groot seun. Toe ons verlede jaar in die Kaap teen hulle gespeel het (die WP het met 45-14 gewen), was dit nogal moeilik. Maar ek dink ons het ons tog goed van ons taak gekwyt. Hy is ’n groot seun wat sterk is en groot bene het, so dit is moeilik om hom te laat beweeg. So ja, dit was maar ’n moeilike dag,” sê Beerwinkel, wat aan albei kante van die skrum kan sak.

Die Westelike Provinsie se Wilco Louw het al menige stutte skietgebedjies laat opstuur. Foto: Gallo Images

Hoewel hy erken dat die inperking weens die Covid-19-pandemie frustrerend is, het hy ook in die tyd agtergekom dat hy daarvan hou om met sy vingers in die grond te wees. Tog sien hy daarna uit om uiteindelik – hopelik in die afsienbare toekoms – sy debuut vir die Poubloues te maak.

“Ek het die tyd gebruik om die beste te maak van ’n slegte situasie. Ek was lank by die huis (in die Wes-Kaap), omtrent twee en ’n half maande, dit was vandat ek beroepsrugby speel die langste wat ek nog by die huis was.

“So ek het dit baie geniet en het my eie groentetuin begin en besig gebly, en dit was lekker om die familie te sien.

“Ek kan glad nie meer wag om my eerste wedstryd te speel nie, die ding is, ons het verlede jaar in November met die voorseisoen begin, ons het steeds nie ’n wedstryd gespeel nie. Net toe ons op pad was om ’n oefenwedstryd te speel, het die inperking begin,” sê Beerwinkel.

Een van die grootste oomblikke in sy loopbaan was toe hy in 2015 as ’n jongeling op die Bulle se plaasvervangersbank ingesluit is vir ’n Superrugby-wedstryd. Saam met hom onder die plaasvervangers daardie dag was die voormalige Bok Pierre Spies.

“Ek dink nie ek het regtig rolmodelle (as kind) gehad nie, maar ek het wel baie opgekyk na manne soos Schalk Burger, Pierre Spies en Victor Matfield.

“Toe ek saam met Pierre ’n plaasvervanger was, was dit vir my ’n groot eer. Hulle is ouens wat goeie rugby gespeel het en wonderlike mense op en van die veld was. Hulle het jou altyd laat voel asof jy deel van die span is, jy sou nooit gevoel het asof jy iets minder is nie,” sê Beerwinkel.

Meer oor:  Wilco Louw  |  Andrew Beerwinkel  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.