Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell: Bok-sege sal Blitse ook oemf gee
Neil Powell glo die Bokke se oorwinning oor die All Blacks sal sy span goed aanspoor.Foto: Gallo Images

Die positiewe rimpel-effek wat die Springbok-rugbyspan se skoksege oor die All Blacks gehad het, sal ook by die Blitsbokke aangevoel word.

Met die Bokke wat die laaste paar seisoene agteruit geboer het, was die nasionale sewesspan as’t ware die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se vlagskip en fakkeldraer vir sukses op die rugbyveld.

Terwyl die Bokke so ver as die sewende plek op die wêreldranglys getuimel het, het die Blitse twee keer agtereenvolgens die Wêreldreeks-titel gewen.

Met die Bokke se oorwinning van 36-34 oor Nieu-Seeland in Wellington het die hoop egter opgevlam dat Suid-Afrika binnekort in die vyftienmanspel ook weer ’n toonaangewende span sal hê.

En dít is ’n verwikkeling wat Neil Powell, die Blitsbokke se afrigter, verwelkom.

“Ons kry beslis goeie vibes van die Springbokke se oorwinning oor die All Blacks, veral omdat ons by die Blitsbokke so nou met Rassie Erasmus (hoofafrigter) en Jacques Nienaber (verdedigingsafrigter) saamwerk,” sê Powell.

“Dis baie goed vir sewesrugby, want dit maak Suid-Afrikaanse rugby sterker en ek dink dis wat ons almal in die land wil hê. Suid-Afrikaanse ondersteuners is honger vir sukses en hopelik kan ons voortbou op hulle sukses.”

Suid-Afrikaanse ondersteuners is honger vir sukses en hopelik kan ons voortbou op hulle sukses.
Neil Powell

Die Blitsbokke is tans midde-in ’n moordende voorseisoense fiksheidsprogram en Powell glo sy spelers is nou fikser as in dieselfde tyd verlede jaar.

“Die spelers se fiksheid is beter bloot omdat die ouens nou voltyds by ons is. Verlede jaar het ’n klomp nog aan die Curriebeker-reeks deelgeneem. Ons het ook planne om die ouens wat wel Curriebeker- en junior rugby speel, vinnig sewesfiks te kry.”

Hoewel die Blitsbokke hulself voorberei vir ’n uitdagende Wêreldreeks, het Powell ook reeds een oog op 2020 se Olimpiese Spele in Tokio. Die voorste vier spanne in vanjaar se sewesreeks sal outomaties vir die Spele kwalifiseer.

Ruhan Nel (Getty Images)

“Dit is ’n belangrike jaar en die feit dat ons ’n paar senior ouens soos Ruhan Nel en Dylan Sage verloor het, beteken dit gaan nog uitdagender wees. Die Spele is beslis deel van ons beplanning. Ek raak skoon senuweeagtig net om daaraan te dink,” sê Powell.

“Hopelik is dit ’n jaar wat die beseringspook ons so ’n bietjie los omdat ons diepte nie heeltemal is wat dit in die verlede was nie.”

Hoewel die Blitsbokke die verdedigende kampioene is, is hulle nie verseker van ’n plek onder die voorste vier spanne nie.

Powell voorsien dat ou vyande soos Fidji en Nieu-Seeland van die strafste kompetisie sal wees.

“Nieu-Seeland verbeter deurentyd en Engeland sal iets hê om te bewys nadat hy verlede seisoen nie so goed vertoon het nie. Australië is ’n moeilike span om te peil, omdat ek onseker is hoe baie van sy spelers voel oor hul afrigter se visie. Amerika kan dalk ’n verrassing wees as hulle hul dinge mooi bymekaar kry.”

Meer oor:  Neil Powell  |  Ruhan Nel  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Blitsbokke  |  Sewesrugby  |  Wereldreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.