Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Eindstryd het my grys gemaak’

Wedstryde soos die eindstryd van die sewestoernooi Sondag in Singapoer is die rede hoekom hy so grys is, sê Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke.

Die Suid-Afrikaanse sewesspan het Sondag vriend en vyand verras deur dié toernooi te wen nadat hy Fidji in ’n naelbytstryd in die eindstryd met 20-19 geklop het.

Die Blitsbokke vier hul oorwinning Sondag. Foto: Getty Images

Teen rustyd was die Fidjiane gerieflik met 19-0 voor en was hulle vir alle praktiese doeleindes die enigste span op die veld. Met hul terugkeer het die Blitsbokke egter drie vinnige drieë gedruk om die agterstand na 17-19 te verklein. Toe, sekondes voor die einde, klits Selvyn Davids ’n strafdoel deur die pale.

“Ek kry altyd die vraag hoekom ek so grys is, en dié wedstryd is presies ’n goeie voorbeeld hoekom ek is. Ek is definitief sprakeloos. Ons was met 19-0 agter en daar was selfs ’n besef dat ons dit nie meer kan maak nie,” sê Powell.

Tog was sy boodskap teen rustyd aan sy spelers dat indien hulle eerste punte ná die rustyd aanteken, hulle terug in die wedstryd sal wees.

Ek kry altyd die vraag hoekom ek so grys is, en dié wedstryd is presies ’n goeie voorbeeld hoekom ek is.
Neil Powell

“Ek het gevra om daai geloof terug te kry. Dit was ongelooflik hoe die jong spelers én die ouer spelers daarop gereageer het,” sê hy.

Ná ’n sukkelvertoning verlede week in Hongkong was daar hoop dat die Blitsbokke sou terugveg, maar baie rusbankkenners het bly brom oor die groot getal onervare spelers in die groep.

Saterdag, op die eerste dag, het die Blitsbokke stem dik gemaak deur Skotland (36-10), Kanada (36-0) en die einste Fidji (17-7) ore aan te sit, waarna Samoa (21-12) en Amerika (24-12) Sondag geklop is.

Die Blitsbokke se Ryan Oosthuizen seil oor die doellyn tydens Sondag se eindstryd teen Fidji. Foto: Getty Images

Onervare spelers soos Angelo Davids en Kurt-Lee Arendse het op die Singapoer-verhoog baljaar soos ou hande.

“Ek dink die span het deur die naweek ongelooflike volwassenheid getoon. Daar was ’n paar keer dat ons nie goed begin het nie, maar wat die ouens teen rustyd weer bymekaargekom het en beheer geneem het.

“Dit was dieselfde teen Fidji. Ons het eintlik ’n klomp foute gemaak, basiese foute wat ons gekos het. Ons het Fidji te veel balbesit gegee en hulle is ongelooflik op die aanval,” sê Powell.

Ek dink die span het deur die naweek ongelooflike volwassenheid getoon.
Neil Powell

Hy het nie geskroom om daarop te wys dat dit die spelers is wat krediet verdien vir die ommeswaai nie.

“Hulle het kopgehou in die tweede helfte en dit wat hulle kan doen, goed gedoen. Dit is altyd moeilik die week ná Hongkong en veral omdat ’n mens nie die uitslae gekry het waarop jy gehoop het nie,” sê Powell.

Niemand moet ooit weer wonder hoekom die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, so grys is nie. Foto: Gallo Images

Dat die Blitsbokke niks in hul pad sou laat staan om te wen nie, word verder geïllustreer deurdat die kaptein, Siviwe Soyizwapi, die eindstryd weens ’n kniebesering misgeloop het.

Krisis? Nee wat, want die ervare Justin Geduld het die span met onderskeiding in die eindstryd gelei.

Selvyn Davids se wenskop het hom die prys vir Oomblik van Briljantheid in die sak gebring, terwyl die ander Davids, Angelo, die Speler van die Eindstryd was.

’n Verdere pluimpie is dat twee Blitsbokke, Geduld en Werner Kok, in die Droomspan van die toernooi ingesluit is..

Vier spelers van Fidji – Josua Vakurunabili, Meli Derenalagi, Aminiasi Tuimaba en Vilimoni Botitu – en ’n Skot, Max McFarland, het ook die paal gehaal.

* Die Blitsbokke bevind hulle saam met Argentinië, Kanada en Japan in Groep A vir die toernooi aanstaande maand in Londen. Die res van die loting is: B. Fidji, Samoa, Frankryk en Kenia. C. Engeland, Nieu-Seeland, Skotland en Ierland. D. Amerika, Australië, Wallis en Spanje.

Meer oor:  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.