SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Powell gee ‘Tarzan’, Afrika koue skouer

’n Viertal “verlore seuns” van die Blitsbokke is almal deur die span se afrigter, Neil Powell, nader getrek vir die eerste Wêreldreeks-sewestoernooi van die nuwe seisoen.

Seabelo Senatla in aksie vir die Blitsbokke in 2017 in Kaapstad. Foto: Getty Images

Seabelo Senatla, Dylan Sage, Rosko Specman en Ruhan Nel is al vier in die groep van 12 ingesluit vir die toernooi wat komende Donderdag in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Met hul insluiting is dit duidelik dat Powell die seisoen op ’n hoogtepunt wil begin en vuur met vuur wil beveg.

Die viertal, wat in Januarie weer by hul Superrugby-spanne aansluit, se insluiting beteken egter dat daar nie plek vir twee legendes van Suid-Afrikaanse sewesrugby, Cecil Afrika en Branco du Preez, en opwindende jongelinge soos Stedman Gans en Impi Visser in die groep is nie.

Daar was ook nie plek vir Werner Kok nie, ook bekend as “Tarzan” vanweë sy lokke. Hy het hom eers onlangs weer by die Blitsbokke aangesluit nadat hy as leenspeler in Frankryk by Toulouse diens gedoen het.

Dis ’n jammerte dat daar nie vir die 31-jarige Afrika plek gevind kan word nie, omdat hy ’n wedstrydwenner uit eie reg is. Tog was sy weglating te verwagte gegewe die opgang wat spelers soos Selvyn Davids en Kurt-Lee Arendse verlede seisoen gemaak het.

Chris Dry, met 68 toernooie agter die blad, is die mees ervare in die groep, terwyl die jong Christi Grobbelaar as plaasvervanger die span na die Woestynstad gaan vergesel.

Kurt-Lee Arendse het genoeg gedoen om Neil Powell te oortuig om hom saam te neem na Doebai. Foto: Getty Images

Powell erken dit was nie maklik om die groep saam te stel nie.

“Ons het ’n aantal ervare spelers in die groep, iets wat my werk makliker maak. Die leiersgroep (met Siviwe Soyizwapi as kaptein) is ook ervare en dit help baie.

“Ons het goed voorberei en hard hiervoor gewerk. Die eerste toernooi is gewoonlik die moeilikste een, omdat almal nog vars en uitgerus is en gretig is om hul stempel af te druk. So elke wedstryd gaan ’n veldslag wees,” sê Powell.

“Ons het verlede jaar swak in Doebai begin en dit het ons ’n rukkie geneem om daarvan te herstel. Ons kan nie enigiets belowe nie, maar ek weet die spelers sal alles insit.”

Die 26-jarige Soyizwapi het halfpad deur verlede seisoen die kapteinskap by Philip Snyman oorgeneem toe dié beseer is. Snyman het intussen sy uittrede aangekondig en dit is die eerste seisoen wat Shakes, soos wat Soyizwapi bekend staan, as kaptein vir ’n seisoen aangewys is.

Suid-Afrika kom in Groep D teen Engeland, Spanje en Kenia te staan.

Blitsbok-groep vir Doebai: Chris Dry (68 toernooie), Ryan Oosthuizen (17), Dylan Sage (24), Zain Davids (18), JC Pretorius (5), Siviwe Soyizwapi (28, k), Selvyn Davids (14), Rosko Specman (28), Justin Geduld (46), Kurt-Lee Arendse (4), Seabelo Senatla (39), Ruhan Nel (28). PLAASVERVANGER: Christi Grobbelaar (debuut).

* Afrika, Du Preez en Kok sal darem steeds ’n draai maak in Doebai. Hulle is in ’n sterk Suid-Afrikaanse Akademiespan ingesluit, wat volgende week daar aan ’n uitnodigingstoernooi deelneem.

Ook Hacjivah Dayimani, wat hom onlangs van die Leeus af by die SA sewesgroep aangesluit het, kry die geleentheid om sy vaardighede in die korter weergawe van die spel te slyp.

Die Akademiespan word deur Stedman Gans aangevoer. Hy word in sommige kringe as ’n toekomstige Blitsbok-kaptein beskou.

Akademiespan: Hacjivah Dayimani, James Murphy, Impi Visser, Angelo Davids, Werner Kok, Branco du Preez, Dewald Human, Malcolm Jaer, Darren Adonis, Cecil Afrika, Mfundo Ndhlovu, Stedman Gans (k).


Meer oor:  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Doebai-Sewestoernooi  |  Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.