Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell: ‘Hopelik sal ’n mens berusting kry’

Verskeie vrae het in Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, se kop gemaal in die tyd dat hy in kwarantyn was nadat hy – ’n paar dae voor die begin van die Olimpiese Spele – Covid-19 opgedoen het.

Neil Powell het die grootste deel van die Olimpiese Spele misgeloop. Hier is hy ten tyde van ’n oefenkamp van die nasionale sewesspan in Junie in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Powell is op 17 Julie, met die nasionale sewesspan se aankoms in Kagoshima, positief getoets. Dit het die Blitsbokke dadelik op die agtervoet gedwing.

Tussendeur daardie vrae, sê Powell, het sy geloof hom staande gehou.

“Ek dink dit is die enigste ding waaraan jy vashou, om te besef dat daar ’n doel met alles is. ’n Mens het uit die aard van die saak baie vrae. In ’n jaar en ’n half het ek nooit Covid gekry nie en toe ek in Tokio land, toe kry ek dit. As dit oor tydsberekening gaan, was dit ’n ongelooflik slegte tyd.

“Ek dink daar is baie vrae waarop jy nie antwoorde gaan kry nie, maar hopelik sal ’n mens mettertyd berusting kry.”

Die Blitsbokke moes op die Spele met die vyfde plek tevrede wees, met Powell wat slegs hul laaste wedstryd, Woensdag teen Amerika, kon bywoon. Hul aanslag op ’n medalje is deur Argentinië in die kwarteindronde beëindig.

Toe Powell hoor dat hy positief getoets is, het hy gevrees dat sy span dalk nie eens aan die Spele sal kan deelneem nie.

Ons het magteloos in daardie wedstryd gevoel.
Neil Powell

“Dit was uit die aard van die saak teleurstellend, maar die teleurstelling was van korte duur, want ek was bekommerd dat van die ander ouens positief gaan toets.

“Dan sou ons dalk nie aan die Spele kon deelneem nie. As daar nog drie of vier positiewe gevalle was, was daar altyd ’n kans dat hulle kon sê ons is hoërisiko. Dit was ongelooflik frustrerend.”

Die Blitsbokke in hul wedstryd teen Kenia in Tokio. Foto: Gallo Images

Reeds met die Blitsbokke se aankoms in Tokio uit Suid-Afrika was daar ’n terugslag toe ’n ander passasier op die vliegtuig positief getoets is. Dit het beteken dat die hele span aanvanklik as nabye kontakte beskou is, wat tyd weg van die oefenveld beteken het.

“ ’n Mens het magteloos en gefrustreerd gevoel. Elke keer is daar terugslae, net sodra jy dink jy gaan vorentoe, dan is daar ’n terugslag. Dit put jou emosioneel uit. Ek moet sê die ouens het onder die omstandighede goed gedoen om hul gemoed reg te hou.”

Dit was Powell se laaste geleentheid om glorie op die Spele te smaak, nadat die Blitsbokke onder sy leiding in 2016 in Rio de Janeiro die bronsmedalje verower het. Hy sluit hom aanstaande jaar ná afloop van die Wêreldbeker-sewestoernooi by die Haaie in Durban aan.

“Om teen Argentinië, wat net ses spelers op die veld gehad het, te verloor, het soveel seerder gemaak. Die teleurstelling was soveel groter. Ons het magteloos in daardie wedstryd gevoel,” sê Powell.

“Vir al die harde werk en opoffering wat ingesit is, en elke land sê dit seker, het ’n mens gehoop die ouens kan darem iets daaruit kry. Ongelukkig het dit nie so gewerk nie.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Neil Powell  |  Tokio  |  Blitsbokke  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.