Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell lees Blitse leviete voor

Ná die Blitsbokke se onverwagse nederlaag Vrydag teen die naasbestes het Neil Powell, dié span se afrigter, ’n tydige waarskuwing gerig aan spelers wat hoop om dié span in die toekoms te verteenwoordig.

Die Blitsbokke, onder die dekmantel van Suid-Afrika 1, het met 12-21 teen SA 2 in Stellenbosch verloor.

Die Blitsbok Selvyn Davids kry die Keniaan Jeffrey Oluoch Vrydag in die twee spanne se kragmeting in Stellenbosch beet. Foto: Gallo Images

Die twee Suid-Afrikaanse spanne, sowel as Kenia, Uganda en Zimbabwe is die naweek daar in aksie.

Die kragmetings dien vir Suid-Afrika as voorbereiding vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Tokio en die spelers kry die geleentheid om kleim af te steek om in dié span ingesluit te word.

SA 1 is basies ’n volsterkte span, terwyl SA 2 aan die ander kant wemel van onbekendes.

Maar daardie sogenaamde onbekendes, soos Christie Grobbelaar en Ronald Brown aan die spits, het ’n hond uit ’n bos gespeel. En in die proses Powell stof tot nadenke gegee.

“Dit is wat hulle (die spelers) nie verstaan nie. Ons kies nie ’n span op ouens wat tien drieë druk nie, ons kies ’n span op ouens wat kan doen wat ons hulle vra om te doen,” het Powell ná die tyd gesê.

Ronald Brown het Vrydag gewys dat Neil Powell nie van hom moet vergeet wanneer hy die groep vir die Olimpiese Spele saamstel nie. Foto: Gallo Images

Maar behalwe daardie laaste wedstryd het die uitsoekspan andersins skerp gelyk.

Ruhan Nel, Selvyn Davids, Siviwe Soyizwapi en Impi Visser het op die aanval en die verdediging uitgeblink.

SA 1 het Vrydagoggend met Uganda (38-5) en later ook met Kenia (38-7) afgereken.

“Ek is gelukkig met die dag. Uit die aard van die saak is daar baie dinge wat ons graag beter sou wou doen,” het Powell gesê.

“Maar in terme van die kompetisie, wedstryde en die teenstanders is dit wat ons gekry het beslis wat ons nodig gehad het. ’n Ou wil nie nou al heeltemal skerp vir die Spele wees nie, ons het nog tyd en dinge om aan te werk.”

SA 2 het vroeër die dag met Uganda (28-7) en Zimbabwe (31-5) afgereken, maar teen Kenia (12-19) verloor.

Saterdag se bepalings: 09:00: SA 1 t. Zimbabwe. Die laasteronde-wedstryde sal eers Saterdag bepaal word.


Meer oor:  Sewe  |  Kenia  |  Zimbabwe  |  Uganda  |  Blitsbokke  |  Oefenwedstryde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.