Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell oor Blitse: ‘Ons swakste’

Ná ’n goeie vertoning op die eerste dag van Wêreldrugby se sewestoernooi in Londen, het die Blitsbokke Sondag seker hul swakste vertoning van die seisoen gelewer.

Waar gaan jy heen? Ek gaan doellyn toe. Australië se Matthew Hood seil Sondag onder die Blitsbokke se Siviwe Soyizwapi uit. Foto: Getty Images

Só sê die span se afrigter, Neil Powell, ná Suid-Afrika het hom Sondag in die kwarteindronde teen Australië vasgeloop wat hom met 29-22 geklop het.

Om sake te vererger, het Nieu-Seeland daarna ook die Blitsbokke se tjank afgetrap, deur hulle in die halfeindstryd om die vyfde plek met 21-17 te klop.

Die silwer randjie by die donker wolk is dat die Blitsbokke verseker is van die vierde plek op die algehele puntelys en dus outomaties kwalifiseer vir 2020 se Olimpiese Spele.

“Ek is baie teleurgesteld. In die laaste wedstryd (teen die Kiwi’s) is daar darem nog bietjie moeite ingesit, maar die kwarteindronde was seker een van ons swakste vertonings hierdie seisoen. Dit geld vir ons op die verdediging en aanval,” sê Powell.

Suid-Afrika se Werner Kok probeer verby ’n Aussie Sondag in die kwarteindronde te kom. Foto: Getty Images

Teen die Aussies het Suid-Afrika gesukkel om sy besit in die losgemale te beskerm én het hom ook skuldig gemaak aan oortredings in dié afdeling van die spel.

Saterdag, op die eerste dag, het Suid-Afrika sonder enige ongemak deur die groepwedstryde gegaan, deur Japan (49-0), Kanada (45-14) en Argentinië (40-21) met minagting uit die pad te vee.

Tog sê Powell daar was klein jakkalsies in die wingerd wat nie Saterdag aangespreek is nie.

“Dit is iets (die Blitsbokke se vertoning) wat net nie goed genoeg is nie, maar dit het al van gister (Saterdag) af gekom. Ons het in die resultate vasgekyk en nie van hoe ons ons prosesse implementeer het nie.

“Om deur ’n goeie eerste dag te kom, beteken dit nie dat die tweede dag ook so maklik gaan wees nie.”

Branco du Preez en Werner Kok op die eerste dag in aksie teen Kanada. Foto: Getty Images

Teen die Kiwi’s het Philip Snyman, die gereelde kaptein wat onlangs ná ’n besering sy terugkeer gemaak het, en as plaasvervanger saam Londen toe gereis het, uit die bloute die Blitsbokke op die veld gelei.

Kurt-Lee Arendse het teen die Aussies ’n stamp opgedoen wat hom langs die kantlyn gehou het, maar die ervare Snyman se insluiting was straks soos manna uit die hemel vir die grootliks onervare Blitsbokke.

Tog sê MJ Mentz, ’n voormalige Blitsbok wat tans hulpafrigter by die Pumas is, dié misoes is nie as gevolg van die baie penkoppe in die span nie.

“Dit is ’n onervare span, maar die ouens het in Singapoer (verlede maand toe die Blitsbokke daar gewen het) gewys wat in hulle steek.

“Sewes gaan alles oor die tweede dag, en veral jou vierde wedstryd. Wat my van die eerste dag gepla het, is dat ons te maklik drieë afgestaan het,” sê Mentz.

Nog ’n oud-Blitsbok, Frankie Horne, wat Suid-Afrika in sy speeldae in 68 toernooie verteenwoordig het, sê die spelers het gesukkel met hul besluitneming.

“Die uitvoering was nie na wense nie en dit was of elke ou sy eie ding wou doen. Daar is ook nie aandag aan detail gegee nie, grootliks as gevolg van onervarenheid.”

* Fidji het sy aanspraak op die algehele titel lewendig gehou, deur Australië in die eindstryd verspotmaklik met 43-7 te klop. Dit nadat hy sy vernaamste teenstander, Amerika, in die halfeind met 17-10 geklop het.

Een van dié twee spanne sal eerskomende naweek in Parys, by die laaste toernooi as algehele kampioen gekroon word. Fidji is met 164 punte eerste op die punteleer, gevolg deur Amerika met 162.

Dié twee spanne asook Nieu-Seeland, wat die seisoen in die derde plek gaan klaarmaak, is saam met die Blitsbokke die ander drie spanne wat vir aanstaande jaar se Spele gekwalifiseer het.

* Die grootste teleurstelling van die naweek was straks die tuisspan, Engeland. Die Engelse, wat voor die toernooi in die vyfde plek op die algehele punteleer was en die Blitsbokke nog kon inhaal, moes met die 14de plek tevrede wees. Hulle het Sondag teen Samoa (19-24) en Japan (14-29) in die uitspeelrondes van die Plaat-kompetisie vasgeval.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Kiwi's  |  Blitsbokke  |  Londen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.