Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell stres nie oor Rosko-hulle se verlies

Die meeste afrigters se broeke sal seker effens bewe wanneer hul spelers van die gehalte van Rosko Specman en Seabelo Senatla moet afstaan, maar Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, is positief oor die toekoms sonder dié sterre.

Ruhan Nel maak reg om ’n Amerikaanse verdediger af te stamp in dié spanne se groepwedstryd in Kaapstad Saterdagaand. Foto: Gallo Images

Powell is Sondag ná die Blitsbokke se nederlaag in die eindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi teen Nieu-Seeland gevra of dit ’n groot aanpassing gaan verg om in die komende Wêreldreeks-toernooie sonder Specman, Senatla, Ruhan Nel en Dylan Sage oor die weg te kom. Die viertal sluit hulle weer by hul unies aan vir die Superrugby-reeks.

“Ons het ’n baie sterk akademiespan gehad wat (voorverlede naweek) in Dubai gespeel het, met spelers soos Cecil Afrika, Branco du Preez, Impi (Visser), Werner Kok en Stedman Gans in sy geledere.

“Ek kan basies die hele groep opnoem. Ek is opgewonde om daardie spelers speelkans te gee en ek weet hulle gaan dit met albei hande aangryp.

“So die stelsel is tans gesond. Ek dink almal is honger om op die veld te gaan. Ons sal vanaand (Sondag) bietjie ons wonde lek (ná die nederlaag in die eindstryd), maar dan sterk terugkom ná Kersfees wanneer ons weer saamtrek,” sê Powell.

Nieu-Seeland het die Blitsbokke ietwat verras deur hulle in die eindstryd van die toernooi in die Moederstad met 7-5 te klop. In die Dubai-eindstryd was dit Blitse wat met 15-0 teen die Nieu-Seelanders baas was.

Ek is baie positief oor die Blitsbokke, omdat dit eintlik nog ’n jongerige span is.
Neil Powell

Suid-Afrika en die Kiwi’s is ná twee toernooie nou gesamentlik boaan die algehele puntelys. Die volgende toernooi word op 25 en 26 Januarie in Hamilton, Nieu-Seeland, beslis.

Ook Frankie Horne, ’n voormalige kaptein van die Suid-Afrikaanse sewesspan, reken nie daar is rede tot paniek sonder Specman-hulle nie.

“Ek dink ons gaan beslis regkom sonder daardie ouens. Daar is ’n hele paar opwindende jong spelers wat nou gekontrakteer word, outjies wat nou net klaargemaak het met skool. So daar gaan wel diepte wees. Ek is nie te veel gestres nie.

“Ek is baie positief oor die Blitsbokke, omdat dit eintlik nog ’n jongerige span is. Ek dink Chris Dry en Justin Geduld is die enigste van die senior ouens (ná die uittrede van Philip Snyman en Kyle Brown) wat eintlik oor is.

“Jy het ouens soos Branco du Preez en Cecil Afrika wat ook nog kan terugkom vir die volgende wedstryde,” sê hy.

Seabelo Senatla in aksie teen Frankryk in die halfeindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi. Foto: Gallo Images

Hoewel die nederlaag in die eindstryd ’n bitter pil vir die toeskouers in die Kaapstad-stadion was, glo Horne nie dit is die einde van die wêreld nie, hoewel daar volgens hom aspekte van die Blitsbokke se spel is wat nog kan verbeter.

“Kaapstad (waar Suid-Afrika laas in 2015 gewen het) is mos maar ’n toernooi waar die senuwees erg pla. Die ouens word heeltemal oorweldig deur die toeskouers. Maar die Blitsbokke het ’n goeie seisoen wat voorlê.

“Daar is maar altyd nog iets wat kan verbeter. Hulle was nie regtig baie klinies en skerp in Kaapstad nie. Ons het baie wedstryde gejaag (nadat die teenstander eerste op die telbord was).

“Daar is egter ook baie positiewe aspekte, soos ons verdediging wat weer uitstekend was. Ouens soos Chris Dry was baie goed in die aspek. ’n Paar duikslae is verbrou, maar oor die algemeen was dit goed,” sê Horne.

* Suid-Afrika het homself altesaam vyf geelkaarte in die Moederstad op die lyf geloop. Senatla (twee), Sage, Dry en Specman het draaie in die koelkas gemaak.

Nel se vyf drieë was die naasmeeste die naweek. Hy is een van die drie spelers wat vyf maal oorgeduik het. Frankryk se Jean Pascal Barraque se ses was die meeste.

* Drie Blitsbokke, Nel, JC Pretorius en Specman, is in die Droomspan van die toernooi ingesluit.

Meer oor:  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.