Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Powell wil met proewe skape van Blitse skei

Neil Powell gaan proewe hou om sy Blitsbokspan vir die laaste twee toernooie in die Wêreld-sewesreeks uit sy groot groep aanspraakmakers te kies.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. Foto: Getty Images

Proewe is deesdae ’n ongehoorde ding in rugby, maar weens verskeie beseerde spelers wat hul terugkeer maak én die span se sukses in die laaste toernooi in Singapoer, wil die Blitsbok-afrigter met proewe die skape van die bokke skei.

Met ’n rits spelers wat terugkeer ná beserings, en verskeie ander wat in die beseerdes se afwesigheid uitstekend vir die span gevaar het, het Powell ’n paar groot toffies waaraan hy sal moet kou oor die volgende paar weke voordat hy sy finale groep bekend maak.

Dié twee toernooie sal bepaal watter vier spanne in die Wêreldreeks outomaties vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio sal kwalifiseer.

Amerika en Fidji is straks verseker van hul plek, terwyl Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Engeland sake om die laaste twee plekke sal uitspook.

Powell het gesê dat hy oor die volgende paar weke proefwedstryde teen onder meer die Maties se sewesspan gaan speel om sy spelers kans te gee om hul beste voet voor te sit.

In verskeie belangrike posisies is daar skielik tot vier spelers wat om ’n enkele plek of twee meeding.

“Dit gaan ’n lekker kopkrapper wees,” erken Powell.

“Baie ouens het hul hand opgesteek oor die laaste paar toernooie. Ek dink byvoorbeeld aan ’n ou soos Angelo (Davids, vleuel) wat so te sê vierde in die tou was in ons vleuelposisie en sy kans baie goed benut het. Dit gaan moeilik wees om hom nie weer ’n geleentheid te gee nie. Maar so sit jy met Siviwe (Soyizwapi), Muller (du Plessis) en Mfundo (Ndhlovu) wat weer reg is. Daar gaan beslis kop gekrap word.”

Werner Kok se skuif voorspelers toe was ook suksesvol en saam met Impi Visser en Ryan Oosthuizen is die drie ’n gedugte voorry. Maar met die kaptein, Philip Snyman, en JC Pretorius wat terugkeer ná beserings, sal Powell met wysheid moet kies.

Cecil Afrika maak nou ook sy lank verwagte terugkeer ná ’n geskeurde dyspier, maar met Selvyn Davids, Stedman Gans, Justin Geduld en Branco du Preez almal op dreef, sal dié spelskepper-rol ook ’n hengse tameletjie vir Powell-hulle wees om uit te pluis.

Die Blitsbok-afrigter is egter seker die spelers sal die besluite van die bestuurspan aanvaar wanneer die tyd aanbreek omdat dit “in belang van die groep” is.

“Ons gaan doen (die groep aanwys) wat ons meen die beste vir die stelsel is en ek glo die ouens sal dit ook so ervaar.

“Dit is wat ons so suksesvol maak. Hulle weet ons neem besluite op grond van wat die beste vir die span gaan wees.”

Om onder die voorste vier spanne te eindig is ononderhandelbaar vir die Blitsbokke, veral omdat die kans om hul wêreldtitel suksesvol te verdedig, in dié stadium heel waarskynlik neusie verby is.

As die span nie onder die voorste vier eindig nie, sal hulle later vanjaar aan die Afrika-se­weskampioenskap moet deelneem om sodoende as streekwenner vir Tokio te kwalifiseer.

Meer oor:  Wêreld-Sewesreeks  |  Neil Powell  |  Maties  |  Blitsbokke  |  Proewe  |  Blitsbokspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.