Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Prat, die man wat die Hane laat vlam vat

Van woestaards, wat rugby tot die dood toe gespeel het tot vlugvoetige rugbykunstenaars, wat sjampanjerugby kan opdis wanneer hulle die dag so voel. Dít is die verhaal van Franse rugby.

Maar dit kon so anders gewees het as dit nie vir Jean Prat was nie.

Jean Prat in aksie vir Frankryk. Foto: The Rugby Union Game

Dit was Prat, wat later as Frankryk se “Monsieur Rugby” bekend geword het, wat Franse rugby gered het.

Daar was ’n tyd toe rugbywedstryde in Frankryk omtrent met stiergevegte vergelyk kon word. Dieselfde bloeddorstige toeskouers wat stiergevegte bygewoon het, het ook na rugbywedstryde gegaan en die spelers tot waansin opgesweep.

In 1924, toe Frankryk in die eindstryd in die Olimpiese Spele in Parys teen Amerika gespeel het, het Amerika gewen. (Die enigste ander span daar was Roemenië.)

Die toeskouers het toe kop verloor, die Amerikaanse vlag verbrand en die skeidsregter probeer aanrand. Toe hulle hom nie kon vang nie, het hulle mekaar begin toetakel.

Gideon Nelson, die Amerikaners se een plaasvervanger, is met ’n stok katswink geslaan. Die Amerikaners moes ook koes vir bottels.

Die gevoel daardie tyd was dat jy maar moes gaan sokker speel as jy nie bereid is om in rugbywedstryde te bloei nie.

Die mededinging in Franse klubrugby was intens. Dis ook waar geldrugby openlik begin het.

Jean Bourrel, ’n sakeman, wou sy span van die dorpie Quillan tot elke prys as kampioen uit die stryd laat tree. Toe skud hy sy sak en versamel ’n byna onoorwinlike groep spelers.

Elke speler het gedoen net wat hy wou en dis nie aanvaarbaar in rugby nie. Dit moet ’n spansport wees.

Dit het gewerk, want Quillan het die nasionale kampioenskap van 1927 af drie keer op ’n streep gewen.

Maar almal het die span begin haat. So rof het dit in ’n wedstryd teen Perpignan gegaan dat Quillan se haker Gaston Riviere doodgeskop is.

Kort daarna is nog ’n speler van Pau op die veld in ’n wedstryd dood.

Nog ’n speler van Lezignan het homself in 1929 om die lewe probeer bring nadat dié span ’n belangrike wedstryd verloor het.

’n Mens sou dink die gekheid sou toe begin end kry, maar nee, in 1930 is die 18-jarige Michel Pradie van Agen ook in ’n rugbywedstryd dood.

Dit was dus geen wonder nie dat die internasionale rugbywêreld Frankryk die rug toegekeer het.

Teen 1940 was die Franse darem weer terug in internasionale rugby. Die styl was effens minder gewelddadig, maar dit was nog steeds gegrond op groot voorspelers wat hul teenstanders boelie.

Natuurlik was daar ook vlugvoetige agterspelers, maar hulle het nie altyd die kans gekry om hul talente uit te stal nie.

Monsieur Rugby, Jean Prat, lei Frankryk op die veld. Foto: Getty Images

Toe kom Prat op die toneel.

Hy het vir Lourdes gespeel.

Prat het geglo dat dissipline die sleutel tot sukses vir Franse rugby is.

“Die Franse spel van daardie tyd was taamlik ongeorganiseerd. Elke speler het gedoen net wat hy wou en dis nie aanvaarbaar in rugby nie. Dit moet ’n spansport wees. Ek het toe as kaptein van Lourdes gesorg dat die spelers gedissiplineerd is en so het ons sukses begin,” het hy later verduidelik.

Prat het gehou van die avontuurlike rugby wat Bayonne gespeel het.

Hy het die beste elemente van Bayonne se wedstrydplan by sy een van gedissiplineerde spelers gevoeg en dinge het begin verander.

Jean Prat, die grondlegger van Frankryk se sukses as rugbyland. Foto: Getty Images

Lourdes se sukses het na die nasionale span deurgesyfer en Frankryk het die vrugte begin pluk.

Die Hane het in die eerste drie jaar ná die Tweede Wêreldoorlog daarin geslaag om die Britse en Ierse spanne almal minstens een keer te klop.

Hulle het in 1948 ook met Australië afgereken.

Prat onthou nog die eerste oorwinning oor Wallis in Swansea daardie selfde jaar baie goed.

Dit was ysig koud en die sneeu is ’n paar uur voor die wedstryd van die veld geskraap. Daar is toe lae hooi op die veld gegooi. ’n Uur of wat voor die afskop, is die hooi weer afgehark.

Dit het so hoog om die veld gelê dat die toeskouers in die eerste rye op die hooi gaan sit het om die wedstryd te kan sien.

In 1951 het Frankryk sy eerste oorwinning oor Engeland op Twickenham behaal.

Die Franse voorspelers het op ’n reënerige dag met die Engelse gemors.

Prat, wat flank gespeel het, het vir ’n drie oorgeduik. In die tweede helfte het hy ’n skepskop deur die pale gejaag. ’n Rukkie later het hy Guy Basquet se drie verdoel om sy span te help wen.

Jare later sou die legendariese Frik du Preez ook in ’n wedstryd soos Prat drop, score en place.

Prat was ’n puntemasjien. Hy het 145 punte in 51 toetse aangeteken. Onthou, toe het ’n drie nog drie punte getel.

Prat se span het in 1953-’54 die Vyfnasiesreeks vir die eerste keer gedeel. En 1954 het nog ’n groot hoogtepunt opgelewer – Frankryk het die All Blacks met 3-0 getroef.

Raai wie het die enigste drie in die wedstryd gedruk? Dis reg, Jean Prat.

* Prat het in 1955 as speler uitgetree. Hy was die Hane se afrigter van 1964 tot 1968. Een van sy hoogtepunte as afrigter was sy span se oorwinning van 8-6 oor die Springbokke in 1964 in die Pam Brink-stadion in Springs.

Bronne: The Union Game – Sean Smith; The Encyclopedia of Rugby Union – Donald Sommerville.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.