Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Boland: ‘President skep, spelers ly’

Die Boland Rugbyunie het nie meer geld om sy spelers en personeel te betaal nie – en tog verdien Ivan Pekeur, sy deeltydse president, bykans R100 000 per maand.

Dié bewering word in ’n brief aan Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), gemaak deur Mannetjies du Plessis, ’n voormalige direkteur en lid van die uitvoerende komitee, en drie ander direkteure van die maatskappy.

Pekeur word ook daarvan beskuldig dat hy met ongemagtigde besluite die unie se geldelike verknorsing vererger.

In die brief, wat in Rapport se besit is, word beweer dat Cassie Carstens, die Boland se nuwe uitvoerende hoof, onregmatig deur Pekeur aangestel is en ’n salaris van R100 000 per maand verdien.

Dít terwyl die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende hoof onderhewig was aan ’n voorwaarde dat ’n lening bekom sou word om die persoon se salaris te betaal en dat inkomste afkomstig van borge dan gedeeltelik gebruik sou word om die lening af te betaal. Dit het nie gebeur nie.

Du Plessis, wat intussen uit alle posisies by Boland bedank het, verwys in die brief ook na die vergoeding en byvoordele wat Pekeur as president kry – ondanks die verslegtende finansiële situasie van die unie.

Du Plessis-hulle beweer in hul brief aan Alexander dat Pekeur net meer as R46 000 ’n maand as honorarium as president verdien.

Hy is ook geregtig op die gebruik van ’n Toyota Rav4, ’n krediet- en petrolkaart én ’n maandelikse toelae van R30 000 van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Sy totale verdienste as president kan soveel as R100 000 per maand beloop.

Volgens die brief is Carstens se aanstelling nog nie deur Boland se direkteure bekragtig nie, soos vereis word. Dus kan hy nie namens die maatskappy optree nie.

Carstens se aanstelling word ook as onregmatig bestempel omdat dit nooit deur die Boland se raad bespreek is nie, die posisie nooit geadverteer is nie en Pekeur hom op eie houtjie “aangestel” het as die nuwe uitvoerende hoof.

Boland skuld die Lotto glo ook ’n bedrag van R1,6 miljoen en die direksie het besluit om die skuld teen R100 000 ’n maand af te betaal.

Pekeur het skynbaar op sy eie besluit om dié betalings te staak.

Op aandrang van ’n ouditeursfirma is op ’n reddingsplan vir Boland besluit, maar na bewering het Pekeur dit nie in werking gestel nie.

Die ouditeure weier tans – volgens die brief – om die finansiële state af te teken.

Die vakbond Sports Employees Unite (SEU) het ook ’n brief aan die Boland-unie gerig waarin hulle daarop wys dat die rugbyunie die grondwet van Saru, asook die King-kommissie se riglyne vir goeie koöperatiewe bestuur, verontagsaam.

SEU wys Boland in hul brief daarop dat hul lidmaatskap van Saru opgeskort kan word – soos onlangs met Grens se rugbyunie gebeur het – as hulle nie geouditeerde state aan die moederliggaam verskaf nie.

SEU dreig daarby om ’n klag teen die Boland Rugbyunie te lê omdat hulle die Wet op Maatskappye oortree.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van SEU, het bevestig dat hulle bekommerd is oor die koöperatiewe bestuur van Boland Rugby.

“Rugby kan nie bekostig om nog ’n geval soos Grens te beleef nie. Ons moet proaktief seker maak dat Boland gesond bly en sy finansiële verpligtinge kan nakom,” sê Heymans.

“Saru het duidelike finansiële bestuursvereistes vir sy lede en dit lyk asof Boland nie daaraan voldoen nie.”

Weens Boland se benarde finansiële posisie is ’n moratorium geplaas op spelerskontrakte ná 31 Oktober.

Tog het Pekeur intussen – volgens kontrakte in Rapport se besit – wel in sy eie hoedanigheid as president minstens 13 kontrakte aan spelers en hul agente aangebied, ondanks die direksie se besluit om nie kontrakte aan spelers te bied nie.

Die kontrakte is deur Pekeur geteken, maar daar is ’n paragraaf wat meld dat dié kontrakte deur die direksie goedgekeur moet word.

Carstens het aan Rapport gesê hy vermoed daar is ’n “slang in die gras” en dat die hele storie ’n “vendetta teen die president” is.

“Ek kan nie uitlatings maak oor besluite wat die president geneem het nie. Al wat ek kan sê, is dat die besluite wat oor kontraktering en die behoud van spelers geneem is, maklik geregverdig kan word omdat die bedrag so klein is,” het Carstens gesê.

“Ek was verlede week by PriceWaterhouseCoopers (PwC), ons ouditeure, en hulle is gemaklik met die begroting wat ek aangebied het. Op grond van die feite tot ons beskikking glo ek die unie is in ’n baie goeie posisie.

“Ons het krediteure aan wie ons minder as R2,5 miljoen skuld, en die helfte daarvan is die Lotto-geld. Ek ondersoek nou wat met daardie geld gebeur het.

“Die res is bedryfskoste. Daar is nie een krediteur aan wie ons geld skuld wat op die punt is om ons te dagvaar nie. Daar is ook nie een speler of personeellid wat nie betaal is nie.”

Carstens sê daar is vordering met Boland se reddingsplan en PwC is gelukkig met die stand van sake.

“Ons werk volgens ’n begroting wat goedgekeur is, en ons is besig met die reddingsplan. Ons enigste bekommernis is of ons volhoubare geld het en of ons ons huidige verpligtinge kan nakom. Ons wag nog om te hoor of ons ’n toedeling van Saru gaan kry, maar ons gesprekke met Saru die afgelope week was fantasties.

“Alle unies sit met dieselfde probleem. Ons is in ’n goeie posisie, want ons besit ons eie stadion en ons oortrokke bedrag is nie eers 2% van die waarde van die stadion nie.

“Al ons ander verpligtinge word nagekom.”

Pekeur het nie op Rapport se boodskappe vir kommentaar gereageer nie.

Alexander het nie die ontvangs van die brief bevestig nie, maar het gesê hy lewer nie kommentaar oor “briewe wat aan die media gelek is nie”.

Meer oor:  Boland Rugbyunie  |  Ivan Pekeur  |  Spelers  |  Personeel  |  Deeltyse President  |  Salarisse  |  Geld  |  R100 000
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.