Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pretoria na Parys: Paul se lang pad

Twee vastelande, drie klubs en ’n nuwe taal. Die Suid-Afrikaans gebore Paul Willemse het ’n lang pad gestap voordat hy Vrydagaand in Parys sy toetsdebuut vir Frankryk in sy Sesnasies-openingswedstryd teen Wallis gaan maak.

Willemse het in 2014 as 21-jarige in Frankryk aangekom enkele weke nadat hy lid was van die Bulle se Curriebeker-span wat in die halfeindronde teen die Westelike Provinsie verloor het.

Rugby
Paul Willemse. Foto: Getty Images

Min het hy toe geweet dat hy vyf jaar later in die Stade de France ’n Franse toetstrui oor die kop sou trek.

Willemse het die dag nadat hy met die groot liefde van sy lewe, Chanique Ras, getrou het, na sy nuwe Franse klub Grenoble vertrek, het Willemse aan AFP gesê.

“Dit was ons wittebrood,” sê dié bielie-slot.

Dinge kon egter heel anders vir die boorling van Pretoria en lid van die Junior Springbokke in 2012 afgeloop het.

Aanvanklik wou ek vir twee jaar in Frankryk speel, ervaring opdoen en dan na Suid-Afrika terugkeer.
Paul Willemse

Volgens Grenoble se voormalige afrigter Bernard Jackman het hy destyds twee opsies op slot gehad vir sy volgende veldtog in die Franse Top14-liga. Willemse, wat 2,01 m lank is en die skaal op 135 kg laat kreun, was een van hulle.

“Ons het ons werwing vir die 2014/2015-seisoen afgehandel, toe Fabrice Landreau (Grenoble se sportdirekteur) twee dae voor die spertyd (wanneer spanne se groepe vir die seisoen gefinaliseer moet word) sê die president het nog geld beskikbaar gestel vir ’n bykomende slot.

“Ons het twee ouens in ons visier gehad. Willemse was een en Argentinië se Tomas Lavanini die ander. Teen die tyd wat ons by Lavanini uitgekom het, het hy reeds ’n kontrak met Racing 92 gesluit. Dít het my met Willemse gelaat en ek het die kontrak vinnig afgehandel,” sê Jackman.

Paul Willemse in die trui van die Blou Bulle. Foto: Gallo Images

Aan die einde van sy eerste seisoen in Frankryk het Willemse hom by Montpellier aangesluit en volgens hom het hy teen dié tyd al terdeë bewus geraak van die groot verskille tussen die daaglikse lewe in Frankryk en Suid-Afrika.

“Dit was die eerste keer dat ek vroue teen tienuur die aand alleen op straat sien loop en kinders wat alleen op busse geklim het.

“My gesin het baie vryheid hier om ’n goeie lewe te lei, om in die park te speel of op ’n bus te klim. Dis ’n goeie ding vir ons.”

Willemse het in 2017 besluit hy wil graag poog om die 11de Suid-Afrikaner te word om die beroemde blou Franse trui oor die kop te trek.

“Aanvanklik wou ek vir twee jaar in Frankryk speel, ervaring opdoen en dan na Suid-Afrika terugkeer.

“Maar die geboorte van my seun het my van plan laat verander. Toe ek eers weet dis moontlik om vir Frankryk te speel, het dit 100% my doelwit geword,” sê hy.

Daar was egter ’n bykomende hindernis wat Willemse, nou 26, moes oorkom voordat hy vir sy aangenome land gekies kon word. Bernard Laporte, president van die Franse Rugbyfederasie, het verlede jaar aangekondig dat ’n Franse paspoort bykomend tot die verblyfsvereiste van drie jaar benodig sou word om vir die Hane in aanmerking te kom.

Toe Willemse dus einde November verlede jaar sy Franse burgerskap bekom het, was sy pad na die toetsspan oop.

Hy’s die speler wat die meeste aan Bakkies Botha herinner, wat ek al gesien het.
Bernard Jackman

Dié oudmatrikulant van die Hoërskool Monument in Krugersdorp is egter daarop gesteld om nie as ’n blote Franse huursoldaat geken te word nie.

“Ek wil hê mense moet my respekteer vir die poging wat ek aangewend het om Frans te leer en te integreer (in die Franse samelewing).

Jackman, die Ier wat Willemse na Frankryk gelok het, glo Willemse was bestem om toetsrugby te speel.

“As dit nie vir Frankryk was nie, sou hy vir Suid-Afrika gespeel het,” sê Jackman.

Hy vergelyk hom ook met die oud-Bokslot Bakkies Botha, wat sy loopbaan by die Franse klub Toulon afgesluit het.

“Hy’s die speler wat die meeste aan Bakkies Botha herinner, wat ek al gesien het. Hy het daardie kwaliteit, ’n tipe aggressie wat raar is. Ek is verheug vir hom,” sê Jackson. – Sport24

Spanne

Frankryk: Maxime Medard, Damian Penaud, Wesley Fofana, Romain Ntamack, Yoann Huget, Camille Lopez, Morgan Parra, Louis Picamoles, Arthur Iturria, Wenceslas Lauret, Paul Willemse, Sebastien Vahaamahina, Uini Atonio, Guilhem Guirado (k), Jefferson Poirot. PLAASVERVANGERS: Julien Marchand, Dany Priso, Demba Bamba, Felix Lambey, Gregory Alldritt, Baptiste Serin, Gael Fickou, Geoffrey Doumayrou.

Wallis: Liam Williams, George North, Jonathan Davies, Hadleigh Parkes, Josh Adams, Gareth Anscombe, Tomos Williams, Ross Moriarty, Justin Tipuric, Josh Navidi, Alun Wyn Jones (k), Adam Beard, Tomas Francis, Ken Owens, Rob Evans.

  • Frankryk en Wallis se Sesnasies-toets skop Vrydagaand om 22:00 af en word regstreeks op SS 1 uitgesaai.

Meer oor:  Paul Willemse  |  Hane  |  Sesnasies  |  Rugby  |  Frankryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.