Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pro14-reeks word toe nie vergroot nie
Leinster vier hulle tweede agtereenvolgende oorwinning van die Pro14-reeks. Foto: Getty Images

Dit is ’n uitgemaakte saak dat geen bykomende Suid-Afrikaanse spanne tot die Pro14-reeks vir die volgende twee seisoene gevoeg gaan word nie.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Maandag ’n verklaring uitgereik het waarin die nuwe afdelings en spanne vir die volgende twee seisoene vasgemaak is.

Ses spanne ruil afdelings.

Die Cheetahs is een van vier spanne wat in Afdeling A gebly het. Leinster, die Dragons en Ulster is nou ook in Afdeling A.

Munster, Connacht en die Cardiff Blues is nou in Afdeling B saam met die Southern Kings vir die volgende twee seisoene.

Die is gedoen om die afdelings mededingender te maak en om ’n gelyke verspreiding van spanne van die deelnemende lande in albei afdelings te verseker.

Daar was vroeër sprake dat Griekwas en die Pumas, hoewel hulle nooit genoem is, tot die reeks gevoeg sou word.

Mark Alexander, president van Saru. Foto: Gallo Images

“Meer Suid-Afrikaanse spanne sal deelneem, moontlik reeds in die 2019-’20-seisoen. Ons is besig met onderhandelinge met ons vennote oorsee. Ons is baie bly daaroor om twee spanne tot die kompetisie in die Noorde by te voeg.

"Dit sal beteken dat ons vier spanne in die Suide (Superrugby) en vier spanne in die Noorde (Pro-reeks) sal hê wat goed sal wees vir Suid-Afrika,” het Mark Alexander, president van Saru tydens die bekendstelling van die Pro14-seisoen in Augustus verlede jaar gesê.

Daar was vroeër ook gerugte dat die twee Suid-Afrikaanse spanne aan die Anglo-Welsh-beker in Brittanje gaan deelneem. Die reeks, wat tussen spanne van Engeland en Wallis beslis is, het egter in 2018 sy laaste asem uitgeblaas.

Pieter Burger, uitvoerende hoof van die Pumas, sê hy is nie deel van die gesprekke om deelname vir die twee spanne aan ’n oorsese kompetisie te verseker nie. Hy het navrae na Saru verwys.

“Sover my kennis strek is daar onderhandelinge, maar ek is net so in die duister soos jy. Uit ’n bedryfsoogpunt hoop ek om eerder vroeër as later te weet waar ek staan,” sê hy.

Dit is een van die probleme. Spelers loop nie noodwendig oor die geld nie, maar oor beter geleenthede.
Pieter Burger

Burger gee toe dit raak die kontraktering van spelers.

“Dit is een van die probleme. Spelers loop nie noodwendig oor die geld nie, maar oor beter geleenthede.”

Dit het die afgelope week rugbaar geword dat André Swarts, veelsydige agterspeler van Griekwas, hom ná die Curriebeker-reeks by die Franse klub Narbonne gaan aansluit. Hoewel Swarts se skuif nie noodwendig aan die onsekerheid oor deelname aan ’n oorsese kompetisie gekoppel kan word nie, word hy as ’n speler beskou wat op ’n hoër vlak kan meeding.

Jannie Louw, president van die Griekwaland-Wes Rugbyunie, sê daar word steeds onderhandel oor deelname aan ’n oorsese kompetisie. “Ons behoort in die volgende maand te weet.”

Die Pro14-deelnemers:

Afdeling A: Glasgow Warriors, Leinster Rugby, Ulster, Ospreys, Dragons, Zebre, Cheetahs.

Afdeling B: Edinburgh, Munster, Connacht, Cardiff Blues, Scarlets, Benetton, Southern Kings.


Meer oor:  Mark Alexander  |  Europa  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks  |  Southern Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.