Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pro14 sal nie net kan hervat, waarsku Crous

Dit gaan nie sommer net ’n kwessie wees van die Pro14-reeks wat eenvoudig hervat word wanneer die Covid-19 pandemie eindelik onder beheer is nie, sê Charl Crous, Pro14 se bedryfshoof.

Charl Crous, Pro14 se bedryfshoof, waarsku dat dit nie ’n grap gaan wees om nuwe bepalings vir die reeks uit te werk nie.Foto: Gallo Images

“Ons (die hoofrolspelers) werk al ’n geruime tyd aan ’n verskeidenheid opsies na aanleiding van baie dinge,” verduidelik Crous vanuit Dublin in Ierland waar hy deesdae woon.

“Daar is dinge wat in gedagte gehou moet word, soos wanneer ons weer gaan begin speel indien reisbeperkings en die verskillende regerings se regulasies opgehef is.”

Crous wonder hoeveel weke daar in die jaar oor gaan wees en hoeveel rondes daar nog in die huidige seisoen gespeel sal kan word.

Hy sê daar moet in ag geneem word dat van die spanne in die Pro14-reeks ook in ander Europese reekse, soos die Europese Kampioenebeker- en die Europese Uitdaagbeker-reekse, speel.

“Daar’s daardie wedstryde wat nog gespeel moet word. Dit (die afstel van die wedstryde) het ’n impak op die Franse Top 14, die Engelse Premierliga en die Sesnasies-reeks. Dan sit jy ook nog met Julie se internasionale wedstryde en nog ander toetse wat moet plaasvind,” sê Crous.

“ ’n Mens moet kyk hoe pas al hierdie naweke van die verskillende ligas by mekaar in. Jy moet saamwerk om die beste oplossing vir die res van die jaar en ook volgende jaar te probeer vind. Ons 2020/21-Pro14-seisoen begin reeds weer in September, so alles skuif aan.”

Crous wys ook daarop dat die spelers se fiksheid en voorbereiding in ag geneem moet word wanneer die nuwe bepalings uitgewerk word.

“Jou spelers het ’n sekere tyd nodig om reg te kom vir hul wedstryde. Wel, hulle het nou ’n pouse, maar hulle sal eers weer ’n tyd moet oefen om vir wedstryde voor te berei,” sê hy.

“Dan is daar ook nog die gesprekvoering met die uitsaaiers wat bitter belangrik is. Alles moet in ag geneem word.”

Crous waarsku dat hy nie dink daar gaan ’n ideale oplossing wees nie.

“Iewers sal iemand ’n kompromie moet maak sodat ons ’n uitvoerbare oplossing kan vind,” sê hy.

Die Pro14-reeks was een van die eerste sportreekse wat sy wedstryde gestaak het toe Covid-19 amok begin maak het.

“Die eerste keer toe korona (die onderwerp) oor my lessenaar gekom het, was seker so sewe weke gelede,” sê Crous.

“Ons het toe dadelik begin om planne te maak oor hoe ons die situasie sou benader indien dit erger word. Min het ons besef ons sou vandag wees waar ons is met alle sport wat wêreldwyd gestaak is en die Olimpiese Spele wat uitgestel is.”

Meer oor:  Pro14  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.