Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrystaat, Oos-Kaap dalk geoffer om plek te maak vir SA se vier grotes
Pro16 kan Cheetahs, Kings se ligte afsit

Die Cheetahs en Kings kan uit die Pro14-reeks geskop word as Suid-Afrika se vier top-rugby-franchises hulle by ’n vergrote reeks sou aansluit.

’n Ingeligte het die afgelope week aan Rapport gesê dat sou die Stormers, Haaie, Leeus en Bulle deel van die reeks word, die Cheetahs en Kings gevaar loop om hul Pro14-status te verloor. Dié nuwe bedeling kan so vroeg as die 2021-seisoen in werking tree.

As die organiseerders op ’n reeks met 18 deelnemende spanne besluit, sal die Cheetahs en die Kings deel van die nuwe Pro18-reeks wees. As op net 16 spanne besluit word, sal die Cheetahs en die Kings ’n ander rugbyheenkome moet soek.

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs, kon die afgelope week nie die versekering gee dat sy franchise minstens tot 2022 van deelname aan die Pro14 verseker is nie.

Sak! Die Cheetahs en Leinster pak mekaar in ’n skrum in ’n Pro14-wedstryd in 2019 in Dublin .Foto: Getty Images

“Alles in Pro-rugby en Superrugby se toekoms in terme van die Wêreldrugby-kalender is nog bespiegelinge en onsekerhede.

“Die instansie wat kommentaar moet lewer op die navrae, is SA Rugby self. Ons beskik oor geen amptelike of selfs ander tipe inligting nie.”

’n Woordvoerder van SA Rugby het by navraag geweier om kommentaar te lewer.

Dit blyk dat spelers van die Kings reeds hul kommer uitgespreek het oor hul toekoms in die reeks. ’n Kings-speler wou verlede week op ’n vergadering in die Baai duidelikheid oor hul span se deelname hê. Rapport het ’n klankopname daarvan bekom.

Jannie Louw Foto: Argief

Die vergadering is deur Jannie Louw, lid van SA Rugby se uitvoerende komitee, gelei.

“In dié stadium ja,” het Louw op die vraag van die speler geantwoord of die Kings langer deel van die Pro14 bly.

“Daar is tans ’n kontrak tussen die Kings, SA Rugby en die Pro14.

“Ek kan niemand egter waarborg dat daar oor 18 maande dieselfde aantal spanne in die Pro14, Curriebeker of Superrugby sal wees nie. Daar is tans egter niks op skrif dat julle (die Kings) nie in die Pro14 sal wees nie.”

Louw erken daar is ’n klomp gesprekke by Wêreldrugby aan die gang oor ’n wêreldkalender vir volgende jaar en dat die rugbylandskap vorentoe baie kan verander.

Uitsaaiers soos SuperSport en rugbybase wêreldwyd bespreek juis die laaste tyd onder meer of die Pro14 tot ’n Pro16 of Pro18 vergroot moet word. Geen uitsluitsel daaroor word tot voor einde Julie verwag nie.

SuperSport lewer geen kommentaar op bespiegelings rakende operasionele kwessies van federasies nie en laat hierdie sake in die hande van die administrateurs

Rapport verneem egter by ’n onberispelike bron SuperSport is ten gunste van ’n Pro16. In so ’n geval kan een van SuperSport se vennote, die Cheetahs, uitgeboender word aangesien plaaslike besluitnemers glo plek vir die plaaslike Superspanne wil maak.

Clinton van den Berg, SuperSport se kommunikasiebestuurder, was diplomaties toe Rapport hom gekontak het oor die uitsaaireus se beweerde voorkeur vir ’n Pro16 en die moontlikheid dat die Cheetahs as vennoot in die proses kan uitval.

“SuperSport lewer geen kommentaar op bespiegelings rakende operasionele kwessies van federasies nie en laat hierdie sake in die hande van die administrateurs,” het Van den Berg gesê.

Al het SA Rugby minstens nog tot 2023 kontraktuele verpligtinge met Sanzaar en ander kommersiële vennote in plek wat die deelname van sy vier spanne in die Superreeks betref, kan die wêreldwye impak van die koronavirus alles verander.

Huidige kontrakte kan ’n nuwe gedaante kry of selfs wegval.

Die aandele is in belang van rugby teruggeneem. Wat die pad vorentoe inhou, is onseker.

Weens onder meer die reisbeperkings weens die Covid-19-pandemie het ’n bron aan Rapport gesê Suid-Afrika se toekomstige deelname aan die Superreeks kan net gered word as daar binne die volgende maand ’n teenmiddel vir die dodelike virus gevind word.

’n Belangrike faktor wat veral ’n verreikende invloed op die Suid-Afrikaanse spanne se deelname aan volgende jaar se Superreeks kan hê, is as Nieu-Seeland en Australië se landsgrense nog tussen April en Junie vir oorsese besoekers gesluit bly.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, het verlede maand op ’n nuuskonferensie gesê rugbyfaktore sal voortaan 40% gewig dra en kommersiële oorwegings 60% wanneer besluite geneem word.

Louw het dit egter duidelik aan die Kings se spelers gestel dat SA Rugby geen planne het om die Kings se deure te sluit nie. Dit volg nadat die beheerliggaam weer beheer van die Baaise franchise gekry en die 74% aandele teruggeneem het van die konsortium van sakemanne wat die span vir ’n rapsie meer as ’n jaar oorgeneem het.

“Die aandele is in belang van rugby teruggeneem. Wat die pad vorentoe inhou, is onseker. Wat ek julle kan belowe, is dat ons nie in die franchise betrokke is om dit toe te maak nie.

“Ons oogmerk is om dit reg te maak. Ons sal daarna na ’n ooreenkoms kyk wat ten beste vir die Kings is. “As dit beteken dat die OPRU 100% van die aandele moet kry, moet dit so wees. Die belang van 74% kan selfs aan ’n nuwe maatskappy verkoop word.

“Daar is niks waaroor julle (as spelers) julle moet bekommer nie. Daar is geen planne wat onder die tafel gemaak word nie,” het Louw gesê.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Kings  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.