Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Proewe kan ‘loopbane bepaal’
Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, sê die wedstryd volgende Saterdag tussen span Groen en Goud sal 'n rigtingwyser vir die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, wees en ook die toekoms van baie spelers bepaal.

Dis pret om rugbyspanne regstreeks op televisie te kies, maar Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het spelers in die Groen- en Goud- span gewaarsku dat hul vertonings in volgende week se wedstryd op Nuweland verreikende gevolge kan hê.

“Daar is ’n Springbok-span wat gekies moet word, so al is hierdie (regstreekse lotingsproses) prettig, is dit ook baie belangrik. Spelers se loopbane is op die spel en baie kry geleenthede. So dis lekker pret, maar ook baie ernstig,” het Erasmus Vrydagaand op SuperSport gesê.

“Hierdie is nie ’n Springbok-span nie, maar dis ’n tree nader aan Bok-rugby . . . ouens se lewensbestaan en loopbane is ter sprake.”

Die keuse van spelers vir twee spanne gaan vir ’n paar interessante tweestryde sorg, terwyl daar ook ’n paar verrassings is.

Volgende Saterdag se proefwedstryd op Nuweland is ’n goeie geleentheid vir Elton Jantjies om te wys dat die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, nie verder as hy hoef te kyk om die beseerde Handré Pollard se skoene op losskakel vol te staan nie. Foto: Getty Images

Erasmus en Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, sal veral die stryd van die losskakels – Elton Jantjies en Damian Willemse – fyn dophou nadat Handré Pollard ’n langtermynbesering opgedoen het.

Jantjies is sekerlik in die binnebaan vir die Rugbykampioenskap, maar ’n uitstaande vertoning deur Willemse kan hom ’n baie sterk aanspraakmaker vir die Springbokke se 23-tal maak.

Willemse sal die voordeel hê dat hy in kombinasie gekies is met ’n Stormers-skrumskakel en -spanmaat, Herschel Jantjies.

Elton Jantjies se skakelmaat is die belowende Sanele Nohamba van die Haaie.

Herschel Jantjies, wat die skrumskakel op die Bokke se plaasvervangersbank was vir verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd, is deur Erasmus voorgehou as rede vir spelers wat nie Vrydagaand gekies is nie, om nie moed te verloor nie.

“Hy was nêrens nie en het toe binne een seisoen in die WB-toernooi gespeel. Twee beserings of een puik vertoning in die Curriebeker-reeks kan jou weer in die prentjie kry,” sê Erasmus.

Twee beserings of een puik vertoning in die Curriebeker-reeks kan jou weer in die prentjie kry.
Rassie Erasmus

Behalwe vir Nohamba, sal opwindende jong spelers soos Gianni Lombard, Wandisile Simelane, Rikus Pretorius en Salmaan Moerat ook die geleentheid kry om deur die Bok-hulpafrigters, Mzwandile Stick en Deon Davids, gebrei te word.

Stick, wat die Groenspan brei, het ook sonder om te aarsel die veteraan-binnesenter Frans Steyn gekies – ’n sterk aanduiding dat hy sterk in die prentjie is vir wanneer die Bokke volgende jaar teen die Britse en Ierse Leeus speel.

’n Aanduiding van hoe ernstig dié kragmeting opgeneem sal word, is dat die spelers insae sal kry op die Bokke se planne en ook hul tekens.

“Hulle sal beslis nie alles kan onthou nie. Wat ’n speler kan onthou, kan hy op die veld uitleef. Maar die groot ding is dat ouens hul talent sal kan uitstal, of jy ’n ou met x-faktor met jou voete is of iemand wat daarvan hou om momentum te kry,” sê Erasmus.

“Al is ouens nie vertroud met mekaar se verdedigingstelsels nie, kan jy steeds vasberadenheid wys en dit persoonlik maak.

“Selfs al is die sisteme nie belyn nie, kan jy steeds ’n speler beoordeel. Jy kan nie ’n Bok word as jy nie ’n kryger in jou hart is nie. Dít moet deurskyn.”

Die groepe is:

Groen:

Stutte: Ox Nche, Thomas du Toit, Trevor Nyakane, Luan de Bruin.

Hakers: Bongi Mbonambi, Schalk Erasmus.

Slotte: JD Schickerling, Hyron Andrews, Oupa Mohoje.

Losvoorspelers: Siya Kolisi, Arno Botha, Duane Vermeulen, Junior Pokomela, Juarno Augustus.

Skrumskakels: Sanele Nohamba, Embrose Papier.

Losskakels: Elton Jantjies, Manie Libbok.

Senters: Frans Steyn, Wandisile Simelane, Jeremy Ward.

Buiteagterspelers: Seabelo Senatla, Yaw Penxe, Gianni Lombard, Malcolm Jaer.

Afrigter: Mzwandile Stick.

Goud:

Stutte: Steven Kitshoff, Dylan Smith, Frans Malherbe, Ruan Dreyer.

Hakers: Scarra Ntubeni, Dylan Richardson.

Slotte: Salmaan Moerat, Marvin Orie, Jason Jenkins.

Losvoorspelers: Marco van Staden, Nizaam Carr, Sikhumbuzo Notshe; Vincent Tshituka, James Venter .

Skrumskakels: Herschel Jantjies, Jaden Hendrikse.

Losskakels: Damian Willemse, Curwin Bosch.

Senters: Rikus Pretorius, Lukhanyo Am, Werner Kok, Manuel Rass.

Buiteagterspelers: Sergeal Petersen, Rosko Specman, Warrick Gelant.

Afrigter: Deon Davids.


Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Deon Davids  |  Mzwandile Stick  |  Rassie Erasmus  |  Suid-Afrika  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Saru  |  Rugby  |  Springbokke  |  Goud  |  Proefwedstryd  |  Groen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.