Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Prof bekyk Bok-toer se impak op Yanks

Vandag presies 40 jaar gelede was dit ’n dag van kleur toe die eerste gemengde Springbok-span met Errol Tobias in die middelveld die Iere op Saterdag 30 Mei 1981 in die eerste van twee toetse op Nuweland gepak het.

Springbokke, Midwest
Die wedstryd tussen die Springbokke en Midwest in 1981 in Racine, Wisconsin. Die SA spelers is (van links): Edrich Krantz, Johan Marais, Errol Tobias, Louis Moolman en Gawie Visagie.

In dieselfde jaar sou die Springbokke se sogenaamde betogertoer na Nieu-Seeland plaasvind, ook met Tobias in die span, waarna hulle op pad terug huis toe in Amerika aangedoen het om daar enkele wedstryde te speel.

Nou is daar ’n boek in die finale fase van produksie oor laasgenoemde hoofstuk in ons land se rugbyverhaal vóór eenheid: Flashpoint: How a Little-Known Sporting Event Fueled America’s Anti-Apartheid Movement (Rowman & Littlefield), deur Derek Charles Catsam.

Dié “event” was die handvol wedstryde wat onder die grootste geheimhouding gespeel is – selfs ’n toets op ’n poloveld, waarvoor die span by die woning van die destydse president van die Amerikaanse rugbyunie, Tom Selfridge, moes aantrek en opwarm. Boonop het nie almal in die Bok-groep altyd geweet wanneer en waar hul spanmaats gaan opdraf nie, ’n situasie wat deur Danie Gerber as ’n “skande” bestempel is. Om toestemming te kry om sekere velde te gebruik, het by geleentheid selfs ’n hooggeregshofbevel geverg.

En dan was daar die ongemak oor die rugbyraad wat $50 000 vir die Amerikaners se onkoste as gasheerland voorgeskiet het, asook ’n “skenking” van dr.  Louis Luyt van $25 000. Onsekerheid het egter ontstaan oor of dit ’n skenking of ’n lening was – en of dit ooit terugbetaal is, is steeds onduidelik, aldus Catsam.

Onder die Amerikaners was die gevoel dat die toer ’n verleentheid was, skryf hy. Hoe durf hulle meedoen aan die vermenging van sport en politiek, is gevra, gegewe Suid-Afrika se muishondstatus as die land van apartheid, terwyl Amerika dan ’n jaar tevore die Moskou-spele geboikot het weens die Sowjetunie se inval in Afganistan?

Maar hieruit het die Amerikaanse anti-apartheidsbeweging, op daardie stadium nog vér agter by die res van die wêreld, gestalte begin kry.

Dit is die kruks van Catsam se boek.

Ten spyte van die geheimsinnigheid waarin die toer gehul was, was daar onder die toerlede ’n vrees vir hul lewe.

“Dit was een ding waarvoor die Springbokke bang was,” haal Catsam die oud-kaptein Wynand Claassen aan.

In Nieu-Seeland was daar betogings oraloor; in Amerika was jy nie seker wat om te verwag nie.

“Betogers kan jy ten minste sien,” het Claassen gesê, “maar ’n bom of ’n sluipmoordenaar (. . .) was ’n ander storie.”

Derek Charles Catsam
Derek Charles Catsam

Die oorsprong van Catsam, ’n geskiedenisprofessor van Texas, se belangstelling in rugby strek terug na 1997: ’n Nagraadse student kom op ’n Rotariër-beurs by die Rhodes-Universiteit in Makhanda aan.

Hier word dié uitblinker in verspring, hoogspring, driesprong en ook so ’n bietjie Amerikaanse voetbal in die Rat and Parrot-kuierplek omgepraat om saam te kom rugby oefen.

Die volgende oomblik draf hy op regtervleuel vir Rhodes se tweedes uit, ontvang binne die eerste minuut die bal en word behoorlik deur die opponente gebóór.

Maar hy kon darem die bal betyds na ’n spanmaat uitkry: “En daar wen ons die wedstryd! Ek was oombliklik verlief op die spel,” vertel hy die afgelope week.

Dié herinnering word vir hom belemmer deurdat dit saamgeval het met die Britse Leeus se 1997-toer en die vertoning van Neil Jenkins wat met sy skopskoen die Bokke hél gegee het.

Catsam se aanvanklike studieveld was die Amerikaanse burgerregtestryd, wat hom ’n vanselfsprekende aanknopingspunt met “ras en politiek en geskiedenis” in Suid-Afrika gebied het. Die jaar 1997 was nie slegs onvergeetlik en “lewensveranderend” vanweë sy persoonlike ervarings nie, maar ook omdat “ras, politiek en sport in Suid-Afrika en Amerika” sy heeltydse navorsingsfokus geraak het, soos wat die titel van sy boek aandui.

“Oor die jare het ek algaande meer oor rugby in Suid-Afrika geskryf en so het ek op die Springbokke se 1981-besoek aan Amerika afgekom,” sê hy.

“Hoe bisar, het ek gedink. Amerika was tóé nog alles behalwe ’n rugbyland.”

Flashpoint deur Derek Charles Catsam

Die plan was aanvanklik om gewoon ’n akademiese artikel oor dié historiese gebeurtenis te skryf, maar die bykomende elemente van die opspraak wat sowel die Iere se toer na Suid-Afrika, die Bokke se besoek aan Nieu-Seeland én Tobias se insluiting meegebring het, het ’n boek-idee laat posvat.

“My hoop was dat die uitreiking met ’n herdenking moes saamval – en Covid se inperkings het gehelp dat ek die meeste van die skryfwerk verlede jaar kon afhandel,” vertel Catsam.

“Maar ek dink ook dat 40 jaar genoeg kritieke afstand bied om weg te breek van die vereenvoudigde goed-teenoor-sleg-tweeledigheid en ook die kompleksiteite in die gebeure raak te sien.”

In sy uitgebreide lys erkennings voor in die boek word verskeie Suid-Afrikaners bedank, onder wie die oud-Bokke Div Visser en Theuns Stofberg; sporthistorici soos proff. Albert Grundling, Hendrik Snyders en André Odendaal; Andy Colquhuon van SA Rugby; oud-Springbok-afrigter Peter de Villiers; die joernalis Dan Retief en fotograaf Wessel Oosthuizen, asook nóg ’n oud-Bok, Frans Erasmus, en Qondakele Sompondo uit sy  Rhodes-verbintenis.

Catsam wys daarop dat die Bokke en Amerika sedert 1981 vier keer kragte gemeet het.

“Maar die kragmetings sedert 1981 was uiteindelik net nóg wedstryde,” lui die slotparagraaf in sy boek.

“Die 1981-toer het oor heelwat, héélwat meer gehandel.”

Meer oor:  Boek  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.