
Matt Proudfoot, Engeland se voorspelerafrigter, is positief getoets vir die koronavirus. Foto: Getty Images
Matt Proudfoot, die voorspelerafrigter van die triomfantelike Springbokspan gedurende 2019 se Wêreldbeker-toernooi, is positief getoets vir die koronavirus.
Die Engelse Rugbyunie (RFU) het dié nuus Woensdag in ’n verklaring bekend gemaak. Volgens die RFU is Proudfoot, tans Engeland se voorspelerafrigter, in “afsondering” en “asimptomaties”.
Proudfoot se positiewe toets het veroorsaak dat die hoofafrigter, Eddie Jones, en nog ’n hulpafrigter, Simon Amor, ook in afsondering moet wees omdat hulle in nabye kontak met Proudfoot was. Volgens die Britse regering se regulasies sal dit vir tien dae moet wees. Hulle sal op 28 Januarie weer by die groep mag aansluit.
Engeland speel sy eerste wedstryd in vanjaar se Sesnasies-reeks op 6 Februarie teen Skotland op Twickenham.
Proudfoot se positiewe toets volg kort op die hakke van die nuus dat Rassie Erasmus, die Bokke se hoofafrigter in die WB-toernooi, ook Covid-19 onder lede gehad het.