Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph ná ’n jaar terug op veld

Pieter-Steph du Toit maak Vrydag sy terugkeer vir die Stormers nadat hy byna 14 maande uit rugby was.

Terug op die veld . . . Pieter-Steph du Toit. Foto: Getty Images

Du Toit, een van die planeet se gesogste spelers, sal sy lank verwagte terugkeer tot die spel in die Kaap teen die Haaie maak.

Die Bok-afrigter Jacques Nienaber het aan Rapport gesê die blondekop-flank was al vroeër gereed om ná ’n ernstige beenbesering te begin speel, maar ’n fratsongeluk het hom langer van die veld gehou. In die ongeluk het Du Toit in die Stormers se duikoefeninge met sy broer Johan gebots en sy neus gebreek. Johan speel nes Pieter-Steph flank.

Du Toit se terugkeer tot die speelveld is nie al goeie nuus vir Nienaber nie. Twee ander Bokke, Handré Pollard en RG Snyman, sal van 1 Mei af perdfris wees ná hul beserings.

Dit beteken dat Nienaber op hul knoppies sal kan druk met die oog op die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Ook Eben Etzebeth sal betyds herstel om Warren Gatland se troepe te pak, maar daar is groot twyfel oor Lood de Jager.

Die 28-jarige Du Toit se laaste wedstryd was op 29 Februarie 2020 vir die Stormers. Hulle het gehoop dat hulle hom vir hul onlangse voorbereidingswedstryde sou kon kies, maar sy gebreekte neus het dit gekeer.

Du Toit verwag nie om ná sy besering net in enige span in te stap nie. “Al wat nou vir my saakmaak, is om terug op die veld te kom en minute agter die rug te kry. Om op meriete in die span te wees en dit net te geniet,” het Du Toit, Wêreldrugby se Speler van die Jaar in 2019, aan Rapport gesê.

Hy sê dit sal ’n voorreg wees om net te kan speel – veral aangesien sy beenbesering sy loopbaan kon beëindig het.

Rapport verneem Du Toit het met die intrapslag ná sy besering weer hoë standaarde op die oefenveld gestel. Hy tel glo onder die topvier-spelers met al die lesings van die GPS-toestelle wat die Stormers-spelers met oefeninge dra.

Nienaber, ’n gekwalifiseerde fisioterapeut en iemand wat as ’n spesialis beskou word wat sportbeserings betref, twyfel in dié stadium of De Jager wedstrydskerp sal wees om die Bokke se lynstaantekens teen Gatland-hulle te roep.

De Jager is geopereer, maar Nienaber wag nog op verdere verslae van sy spesialis oor sy beseerde knie. Die Bok-kamp doen intussen sy beplanning asof De Jager 14 weke kan uit wees. Hulle sal dit as ’n bonus beskou as hy vroeër reg is.

Die goeie nuus oor Snyman en Etzebeth se gereedheid om teen die Britse Leeus te speel, versag die kommer oor De Jager.

“RG en Handré oefen al saam met hul klubs,” sê Nienaber.

“Ek het ook die skanderings van Eben se gebreekte vinger onder oë gehad. Hy behoort binne ses weke weer te kan speel. Die samewerking wat ons met klubs soos Johann van Graan van Munster en Montpellier met die beserings het, is baie goed.

“Die samewerking tussen die Bokke en ons plaaslike fran­chises is net so goed.”

Spelers soos Pollard en die Bulle se Duane Vermeulen het byvoorbeeld ’n groot gedeelte van hul rehabilitasieprogramme in die Kaap by die Bokke se jarelange fisioterapeut Rene Naylor gedoen. Vermeulen het ’n knieoperasie ondergaan en Nienaber is tevrede dat sy herstelproses fluks vorder.

Nienaber het ook gesê hy is tevrede met wat hulle die afgelope twee weke op die Bokke se belyningskampe bereik het.

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit  |  Besering  |  Stormers  |  Terugkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.