Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pukke maak amok in Bloemfontein

Diegene wat gedink het dat die Pukke se Varsitybeker-veldtog is besig om ’n stadige dood te sterf, is Maandag in Bloemfontein verkeerd bewys.

Schalk Hugo, losskakel van die Pukke, soek Maandag deurkomkans in hul wedstryd teen Ixias in Bloemfontein. Foto: Varsity Cup

Die Potchefstromers het met ’n kliniese vertoning agt drieë gedruk om die Ixias met 62-7 af te ransel.

Met die horde besit wat die Pukke, wat verlede week met 28-0 deur Tuks uitgestof is, gehad het, het hulle baljaar – rugby sonder tierlantyntjies – maar doeltreffend.

Die besoekers se losskakel, Schalk Hugo, het met sy balverspreiding en hardlooplyne beïndruk, en die spelers aan sy buitekant oorgenoeg geleenthede gegee.

Boonop was hy suksesvol met al sy pogings pale toe.

Die Pukke het die Ixias, wat die seisoen ’n skrikbewind met sy voorspelers voer, voorlangs baie goed in toom gehou. Voeg daarby klipharde verdediging, en jy weet hoekom die Bloemfonteiners bloedneus gekry het.

Edmund Rheeder, agtsteman van die Pukke, sit af op ’n lopie. Foto: Varsity Cup

Dis seker verkeerd om spelers van die wenspan uit te sonder, maar die agtsteman, Edmund Rheeder, het ’n barshou gespeel en soos ’n besetene verdedig.

Die kere dat die Ixias naby die Pukke se doellyn was, het hulle of besit afgestaan of swak besluite geneem.

As die Ixias dalk nog kop in die wolke was ná verlede week se oorwinning oor die Shimlas, het die Pukke hulle met geweld aarde toegebring.

Puntemakers:

Pukke 62 (32): Drieë: Pienaar van Niekerk (sewepuntdrie), Van Niekerk, AK Nela, Johan Retief (sewepuntdrie), Chunier van Rooyen, Lungelo Gosa, Keagan Tait (sewepuntdrie), Lincoln Daniels. Doelskoppe: Schalk Hugo (8).

Ixias 7 (0): Drie: Karabo Maqeba. Doelskop: Marc Morrison.

* Wits het op hul tuisveld die Universiteit van Wes-Kaapland in ’n fees van drieë met 74-40 afgeransel.

Wits 74 (39): Drieë: Sicelo Champion, CJ Conradie, Jared Fuller, Runaldo Pedro, Daniel Kasende, Conor Brockschmidt, Philip Krause (2 drieë), Sipho Siboza, Constant Beckerling. Doelskoppe: Chris Humphries (9).

UWK 40 (3): Drieë: Tristan Leyds, Andre Cameron Manuel (3 drieë),  Reece Bocks. Doelskoppe: Keegan Fortune (4). Strafdoel: Fortune.

    Meer oor:  Varsitybeker  |  Pukke  |  Ixias
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.