Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pukke siek om strooijonker te wees, sê breier

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is moeg vir sy strooijonker-etiket en is desperaat om ’n tweede keer as Varsitybeker-kampioen gekroon te word.

Die NWU se losskakel Schalk Hugo sal vanjaar weer ’n sleutelrol vir sy span vertolk in die Varsitybeker-reeks. Foto: Gallo Images

Só meen die span se breier en voormalige Blitsbok, Jonathan Mokuena.

Die NWU-Pukke is die span wat naas die Universiteit Stellenbosch al in die meeste eindstryde gespeel het, maar kon nog net een keer die kroon dra.

Die span van Potchefstroom was in 2009, 2014, 2015, 2016 en 2018 in die eindstryd, met hul enigste sege wat in ’n naelbytstryd teen die Maties in 2016, toe hulle met 7-6 baas was.

Die Maroentruie aan die ander kant het ’n beter treftempo en was in vier van hul agt eindstryde aan die wenkant. Dié twee spanne was juis verlede jaar in die eindstryd slaags, met die Maties wat bo uitgekom het.

Mokuena sê sy span is oorgehaal om vanjaar daardie ontwykende tweede titel te verower.

“Ons wil dit vanjaar absoluut ’n stap verder neem en graag die reeks weer wen,” het Mokuena by navraag gesê.

“Ons het in 2016 gesien watter effek dit vir die universiteit het met die sukses in die toernooi wat oorgespoel het na ander dinge.”

Geoordeel aan sy opwarmingswedstryde sal die NWU se verdediging straks een van sy sterkpunte vanjaar wees.

Die span se voorbereiding het tot dusver volgens plan verloop nadat hy net ’n enkele drie teen Rhodes-Universiteit en ook net een teen die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) afgestaan het. Hy het in sy derde kragmeting ook ’n sielkundige sege behaal deur die Universiteit van Pretoria (Tuks) met 33-14 die loef af te steek.

Sy aanslag begin Maandag met ’n taai kragmeting teen die Universiteit van Johannesburg (UJ), maar Mokuena lek reeds sy lippe af vir dié stryd.

“Ek dink nie dit gaan die UJ van ouds wees nie,” sê hy.

“Die aanstelling van Dewey Swartbooi as hul afrigter gaan dinge beslis interessant maak. Hy is ’n gesoute breier en gaan sonder twyfel ’n haas of twee uit die hoed pluk.”

Verlede jaar het die Pukke dié stryd in die groepfase net-net met 18-15 gewen, hoewel hulle later in die halfeindstryd die krane oopgedraai het en die Johannesburgse studente met 60-31 platgevee het.

Daar is vanjaar verskeie nuwe gesigte in Mokuena se groep, maar talle hardebaarde sal steeds hul ervaring bied.

“Ek dink in die groep het ons so 12 nuwe manne met drie of vier van hulle wat in die beginspan sal wees,” sê hy. Sy Namibies gebore haker, Louis van der Westhuizen, is die kaptein.

Meer oor:  Jonathan Mokuena  |  Varsitybeker  |  Pukke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.