Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pukke slaan Wits pimpel en pers

Wits kon Maandagaand net nege kort minute in Potchefstroom van ’n sege in die Varsitybeker-halfeindronde droom. 

Hulle het nege minute lank die een stormloop ná die ander geloods en deur die skopvoet van Chris Humphries uiteindelik eerste bloed getrek.

Pukke
Die Pukke-losskakel, Schalk Hugo, het Wits Maandagaand winduit geslaan deur al tien sy stelskoppe deur die mikke te stuur en twee drieë met slim grondskoppies te skep. Foto: Gallo Images

Toe skrik die slapende reus wat Pukke in daardie eerste nege minute was, wakker en slaan sy besoekers vir die volgende 71 minute met die een lyfhou ná die ander pimpel en pers.

Die Potchefstromers sal hul halfeindstryd teen Tuks in Pretoria aanstaande Maandag met sakke vol selfvertroue tegemoetgaan nadat hulle Wits in die Fanie du Toit-stadion met 74-15 vermorsel het.

Die Potchefstromers was met rustyd reeds met 46-3 voor nadat hulle in ’n halfuur vyf drieë ingeryg het (vier daarvan sewepunters) en hul losskakel, Schalk Hugo, ’n perfekte skopvertoning gelewer het.

Daardie telling sou vir die oningewyde geen sin maak nie. Wits het immers in die eerste helfte meer balbesit (60%) én gebiedsvoordeel (52%) gehad en minder duikslae (49 teenoor 55) geloods.

Die Pukke het egter gewys dat hoe gereeld jy die bal het veel minder tel as wat jy daarmee maak. Met Hugo wat die toutjies uitmuntend getrek het, het die tuisspan die voordeellyn na willekeur oorgesteek, die bal vinnig deur die hande gejaag, hul foute tot ’n minimum beperk en elke geleentheid aangegryp om agter die doellyn te kuier.

Die tweede helfte het begin soos die eerste, met Wits vir die eerste sewe minute in besit, maar hanteerfoute en swak dissipline het hulle duur te staan gekom. Toe die stut Keagan Glade die Pukke-skrumskakel Chriswill September net binne die tuisspan se 22 pootjie, is sy span die doodskoot toegedien. 

Met hom op die veld was die Wits-skrum yslik, maar sonder hom het nie net dít verkrummel nie, maar ook hul verdediging teen die rolmale. 

Dit was juis van ’n rolmaal wat Pukke hul eerste drie van die tweede helfte aangeteken het. Maar moenie dink hulle het briek in die tweede 40 begin aandraai nie. 

Die heupswenke en sololopies het so te sê dadelik daarna hul terugkeer gemaak – selfs die vaskopstut Matimu Manganyi het die verdediging op ’n kol na lug laat gryp – en net meer pyn op Wits gelaai.

Die plaasvervanger-vleuel Daniel Kasande Kapepula, wat soveel harte aangegryp het toe hy twee weke gelede sy Speler van die Wedstryd-toekenning aan sy oorlede vriendin opgedra het, en Justin Brandon het wel troosdrieë vir Wits gedruk, maar dit het geen effek op die uitslag gehad nie. Die slag was lank voor dit reeds gelewer.

Vir Pukke was hul laaste groepwedstryde haas perfekte voorbereiding vir die uitkloprugby wat nou wag. Vir Wits, wat ná dié wedstryd van hul inspirerende kaptein, Constant Beckerling, moes afskeid neem, was daar net een troos: Selfs ’n sege sou hulle ná alles tog nie in die halfeindronde kry nie. 

Daarvoor het Shimlas se sege oor UJ reeds vroeër gesorg.

Puntemakers:

Pukke 74 (46): Drieë: Wian Conradie (sewepuntdrie, vyfpuntdrie), Gideon van der Merwe (2 sewepuntdrieë), Chuiner van Rooyen, Pienaar van Niekerk (sewepuntdrie, vyfpuntdrie), Edmund Rheede, Johan Retief. Doelskoppe: Schalk Hugo (9). Strafdoel: Hugo.

Wits 15 (3): Drieë: Daniel Kasande Kapepula, Justin Brandon. Doelskop: Chris Humphries. Strafdoel: Humphries.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Pukke  |  Wits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.