Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Puma se loopbaan word kortgeknip

’n Nekbesering wat die Pumas se AJ le Roux in ’n oefening opgedoen het, het sy rugbyloopbaan voortydig tot ’n einde laat kom.

AJ le Roux in aksie vir die Griekwas in die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks teen die Leeus in 2019 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Le Roux (30), ’n haker, het die besering aan die einde van April opgedoen waarna hy in ’n Johannesburgse hospitaal geopereer is. Hy sterk tans by sy ouerhuis in Pretoria aan en sê dat die operasie goed verloop het.

“Volgens die spesialis is dit op lang termyn beter as ek nie meer rugby speel nie,” sê Le Roux.

“Dit klink darem of ek steeds ’n goeie gehalte van lewe sal hê. Ek sal steeds kan draf en oefen, net nie meer kontak hê nie.”

Le Roux, oudleerling aan die Hoërskool Overkruin in die Jakarandastad, was behalwe vir sy inklimspel op die rugbyveld, veral bekend as iemand wat die bal sekuur by die lynstane kon ingooi.

Hy het sy senior provinsiale buiging in 2010 vir die Blou Bulle gemaak en het ook vir die Leeus, Cheetahs en Griffons uitgedraf. Dit was egter by die Griekwas in Kimberley waar hy hom oor verskeie seisoene as ’n staatmaker gevestig het.

Le Roux was deel van die Griekwa-span wat in 2019 die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal het. Hy het die Poubloues tussen 2015 en 2019 in 90 wedstryde verteenwoordig voordat hy ’n tuiste by die Pumas in Mbombela gevind het. Hy het die Laevelders in 12 wedstryde verteenwoordig.

Volgens die spesialis is dit op lang termyn beter as ek nie meer rugby speel nie.
AJ le Roux
’n Nekbesering het AJ le Roux se loopbaan tot ’n einde gebring. Foto: Gallo Images

Le Roux hoop om eendag by afrigting betrokke te raak.

“Ek is bevoorreg dat ek tien jaar lank kon doen waarvan ek hou,” sê hy.

Spelers soos Corné Fourie, Simon Westraadt, Eduan Swart en HP van Schoor is nou in die wedloop om in die toekoms die Laevelders se nr. 2-trui te dra.

Die Pumas kom Vrydag in ’n oefenwedstryd teen ’n Luiperds-15-tal in Pretoria te staan.

Vir Jimmy Stonehouse, afrigter van die Laevelders, is dit belangrik dat al die spelers in die groep wedstrydtyd kry voordat die Curriebeker-reeks na verwagting in Junie begin.

Fourie, wat terug is in Mbombela nadat hy draaie by die Stormers en oorsee gemaak het, sal teen die Potchefstromers die eerste keer sedert 2015 weer ’n Puma-trui oor die kop trek.

• Die oud-Kapenaar Matt More, ’n senter, het hom intussen vir ’n proeftydperk by die Pumas aangesluit.

Meer oor:  Pumas  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.