Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas g’n kleintjies, sê Bulle se Jano

Daar word by Loftus Versfeld nie na Griekwas en die Pumas as “kleintjies” verwys nie.

In die lig van begrotings en spelerskorps ís die spanne kleintjies, maar nie wanneer jy op die veld draf nie, sê Jano Venter, losvoorspeler van die Blou Bulle.

Jano Venter onlangs op die aanval teen die Goue Leeus op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Venter was een van die plaasvervangers toe die Pumas hulle verlede seisoen in Mbombela met 51-15 verneder het.

Dit was voorlangs manne teen seuns en die Pumas het die Ligbloues stukkend gerolmaal daardie aand.

En dít boonop in John Mitchell se eerste wedstryd as hoofafrigter nadat hy gevra is om by Nollis Marais oor te neem.

“Nee, hulle is nie kleintjies nie. Teen Griekwas en Pumas kan jy maar weet hulle gaan genadeloos wees.”

Die Bulle kom Vrydagaand op Loftus teen die Pumas te staan nadat hul die afgelope naweek so byna in Kimberley teen die Poubloues vasgeval het.

“Ons het dit vir onsself moeilik gemaak nadat ons so goed begin het.

“Ek dink ons het so ’n bietjie in ’n gemaksone gegaan toe ons met 28-7 voor was. Ons moes nog ’n drie gedruk het en hulle weggebêre het.

“Een of twee sagte oomblikke later en ons was skielik agter.”

“Stoney (Ruan Steenkamp, die Bulle-kaptein) het hard gepraat en vir ons gesê daar is net een pad: vorentoe.”

Dit is onafwendbaar dat hy oor sy onlangse vertoning teen die Haaie in Durban uitgevra sou word.

Niks wou vir Venter reg verloop nie en hy het ’n stuk of drie, vier keer die bal aangeslaan.

“Jô, dit was nie lekker nie en daar was baie kommentaar daaroor. Ek is oorywerig en is dan geneig om buite ons struktuur te speel.

“Ek het krieket gespeel op skool en daar is niks fout met my hande nie. Ek is net soms oorywerig, geen twyfel daaroor nie.”

Jô, dit was nie lekker nie en daar was baie kommentaar daaroor. Ek is oorywerig en is dan geneig om buite ons struktuur te speel
Jano Venter

Venter was Saterdag een van die Bulle se uitblinkers.

“Ek het besef ek sal ná Durban moet speel om myself te bewys. Dit is altyd lekker om te weet jy speel vir ’n afrigter (Pote Human) wat soveel vertroue in ’n ou het.”

Dié 24-jarige oud-Middelburger het verlede jaar deur die loop van die Curriebeker-reeks die Leeus vir die Bulle verruil. Iets waaroor hy nie spyt is nie, verseker Venter.

“Ek is nie iemand wat terugkyk nie. Dit is vir my lekker om in Pretoria te bly en vir die Bulle te speel.”

Venter was in 2015 ’n lid van die Leeus se groep wat die Curriebeker-verower het.

“Ek het vier of vyf wedstryde gespeel en so ’n bietjie daarvan ervaar, maar Jaco Kriel het vir die halfeindstryd en eindstryd teruggekeer.

“Die Leeus het gewen, maar ek het nie heeltemal deel daarvan gevoel nie. Ek sal beslis nie omgee om daardie beker vir die Bulle vas te hou nie.”

Meer oor:  Pote Human  |  Pumas  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.