Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas klop begeesterde Boland

Hoewel die Pumas se dissipline soms gelol het, het hulle genoeg gedoen om hul plek in die eindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks te bespreek.

Die Pumas se Jeandré Rudolph sit Sondag af op ’n lopie teen Boland. Foto: Gallo Images

Die Laevelders se span, die verdedigende kampioen, het ’n begeesterde Boland in die halfeindronde Sondag met 57-32 in Kanyamazane naby Mbombela geklop.

Die Pumas se agterlyn was giftig en wanneer hulle die bal gehad het, het die Bolanders min tot geen antwoorde gehad nie. Veral die buitesenter, Neil Maritz, het ’n paar breekslae ingekry.

Dit was hoeka een so ’n keer wat hy regdeur Boland se agterlyn gesny het met die vleuel Ruwellyn Isbell wat gaan afrond het vir sy eerste drie.

Die skouspelagtigste van die Pumas se nege drieë was waarskynlik toe die flank Jeandré Rudolph ’n skoppie opgevolg en soos ’n wafferse vleuel teen die kantlyn afgesuiker het om te gaan druk.

Maar die Pumas se gebrekkige dissipline het hulle so byna in die hek laat duik. Hulle het talle strafskoppe, vir oortredings by die afbreekpunte tot ontoelaatbare duikslae, afgestaan. Dit het beteken dat Boland se losskakel, Garrick Mattheus, sy span in die wedloop gehou het.

Boland het die Pumas boonop voorlangs vasgevat, met Kenan Cronjé en Marlyn Williams wat die bal goed gedra het. Voeg daarby die giftige skrumskakel Shirwin Cupido, en jy weet hoekom Boland nie kanonvoer was nie.

Laat in die wedstryd het die Pumas wel wakker geskrik en die drieë ingeryg, maar tog in die doodsnikke ’n strafdrie afgestaan.

Die Pumas kom nou Sondag in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd teen Griekwas in Saldanhabaai te staan. Die Poubloues het die Westelike Provinsie vroeër in die ander halfeindstryd met 50-21 geklop.

Puntemakers:

Pumas 57 (31): Drieë: Ruwellyn Isbell (2), Willie Engelbrecht, Jeandré Rudolph, Chris Smith, Ryan Nell, Corniel Els, Devon Williams, Marco Palvie. Doelskoppe: Smith (6).

Boland 32 (16): Drie: Kenan Cronjé, Strafdrie. Doelskop: Garrick Mattheus. Strafdoele: Mattheus (6).

Meer oor:  Pumas  |  Supersport-Uitdaagreeks  |  Boland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.